Wian Hattingh, ‘n graad 8-leerling van Hoërskool Sentraal, het sy skool se naam hoog gehou deur ‘n indrukwekkende agtste plek te behaal. Hy was deel van die landswye nasionale finaal van die AfriSkuld Nasionale Spelkampioenskap. Die prestige-geleentheid het in die Atterbury-teater in Pretoria plaasgevind en die land se mees begaagde jong spellers byeengebring.

Die AfriSkuld Nasionale Spelkampioenskap is ‘n gewilde landswye kompetisie. Hulle fokus op die bevordering van Afrikaanse taalkennis, woordeskat en korrekte spelling onder die jeug. Wat hierdie kompetisie besonder uitdagend maak, is dat deelnemers sonder enige vooraf voorbereide spellyste optree. Spellers word dus op die daad getoets op hul algemene taalgevoel, etimologiese kennis en vermoë om ingewikkelde woorde onder groot druk korrek te ontleed.

Wian het sy staal gewys in ‘n uiters mededingende veld van 140 van die land se beste leerders. Hy het rondte na rondte die hoofbrekers suksesvol die stryd aangesê, voordat hy ten slotte met die wetenskaplike woord “Talidomied” uitgeskakel is om onder die top-10 in Suid-Afrika te eindig.

Hoërskool Sentraal het hul besondere trots op Wian se prestasie uitgespreek. Hierdie uitsonderlike resultaat getuig van sy uitstekende taalrepertorium, vinnige denke en kalmte op die nasionale verhoog.

https://sentraal.co.za

Foto verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article