Dis hartseer om te sien hoedat verskeie lande in die wêreld gebuk gaan onder oorlogvoering. Die hartseerste daarvan is die feit dat onskuldige lewens daaronder moet ly – veral die van vroue en kinders.
My hart bloei vir die kinders en vroue in daardie dele van ons wêreld waar ‘n kinderhart net verlang om daagliks by die skool te wees en die reg op opvoeding te geniet. Dit gryp aan die gemoed as jy ‘n vrou sien wat haar kind of kinders moet toevou om hulle teen die koue neerslae van bomme te beskerm en in die proses haar eie lewe op die spel te plaas. Kom ons wees nou maar eenmaal eerlik met mekaar en erken dat daar nog nooit werklike wenners in ‘n oorlog van watter aard ook al was nie. Gaan kyk maar na die geskiedenis. Die bloedvergieting wat met sulke oorloë gepaard gaan, grens aan waansinnigheid.
Miskien moet ons dit as ‘n feit aanvaar dat vrede tussen verskillende lande nie altyd moontlik is nie en daar altyd die moontlikheid sal bestaan dat die verlies van menselewens mag voorkom. Hartseer soos dit mag klink is dit telkens vanuit die annale van die geskiedenis bewys.
Of die oorsprong van sodanige konflik suiwer polities of dalk etnies-polities van aard is, die uitkoms daarvan bly nog steeds pynlik, vernietigend en verwoestend. En telkens kom die onvermydelike vraag by ‘n mens op of blywende vrede ooit ‘n werklikheid kan, of sal, word in die tye waarin ons deesdae leef. Is vrede nie op die ou einde daardie strewe wat ons almal het nie? Die komplekse aard van party oorloë in sekere dele van die wêreld maak die ideaal van vrede seker te vergesog.
Wel, as die bloed en lewens van onskuldige kinders, vroue en mans iewers in die wêreld wreedaardig vergiet word, dan het ons die morele plig om ons stemme vir vrede hard en duidelik te laat hoor. Ons kan en mag nie stilbly nie. Ons solidariteit met hulle wat aan die ontvangkant van oorlog, ongeregtigheid en daaglikse lyding is moet sigbaar wees. Of dit deur massa-protesoptogte, die aanwend van sosiale media, die voorsiening van hulpmiddele in belang van hulle wat swaarkry in oorloggeteisterde lande is… daar is soveel maniere hoe ons ons solidariteit met hulle in nood kan wys.
En telkens kom die onvermydelike vraag by ‘n mens op of blywende vrede ooit ‘n werklikheid kan, of sal, word in die tye waarin ons deesdae leef.
My intense bewustheid van ons wêreld in krisis het my opnuut laat besef dat ons op eie bodem in ‘n oorlog gewikkel is. Ons Suid-Afrikaanse oorlog mag dalk nie fisiese oorlogtenks, die gebruik van swaar ammunisie, handgranate of bomme insluit nie, maar wat van ons land wat gebuk gaan onder erge werkloosheid?
Wat van die bendegeweld op die Kaapse Vlakte waar honderde lewens daagliks en weekliks vernietig word? Wat van die stilswye van hulle wat veronderstel is om reg en orde te handhaaf?
Is dit nie ook maar vorme van oorlogvoering as ons mense jaar ná jaar gebuk gaan onder die juk van onbekostigbare voedselpryse nie? En om alles te kroon word ons staatskoffers geplunder tot daar niks meer oorbly nie. Vir jare wag ons nou al om hulle wat vir hierdie gruweldade teen die landsburgers van Suid-Afrika verantwoordelik is te sien boet vir hul dade.
Of dit ooit sal gebeur kan ons maar net oor wonder, want dit wil voorkom of ons land regeer word deur misdadigers wat selfs die oppergesag van die reg uitdaag. Ons almal het so daarna uitgesien dat ons land die toonbeeld wêreldwyd kon word van dit wat vermag kan word as ons politieke leiers die wil en ywer aan die dag lê om Suid-Afrika ‘n tuiste vir almal te maak.
Dit blyk nou bloot net ‘n droom te wees, want die einste sogenaamde politieke leiers sorg net vir hulself. Wat ‘n skande!
En hier is die plaaslike verkiesings alweer op pad. Hou maar dop hoe die politieke veldtogte in die aanloop tot die nasionale plaaslike verkiesing weer gaan vlamvat. Orals gaan beloftes weer links en regs gemaak word. Dit sal interessant wees om te sien of ons Suid-Afrikaners nog ‘n keer gaan toelaat dat ons telkens om die bos gelei word.
Vir die afgelope dertig jaar verdra en verduur ons die oorlog van armoede, werkloosheid, swak dienslewering, leë beloftes, politieke magsvergrype, hopeloosheid onder ons jongmense en stygende lewenskoste.
Ons sit met ‘n sogenaamde regering van nasionale eenheid wat die broosheid vanself is. Net tyd sal leer wat ná die plaaslike verkiesing sal gebeur, want iewers sit en maak politieke partye alweer planne hoe die een die ander kan uitoorlê, omkoop en beswadder.
En onderwyl hulle besig is met hierdie “survival of the fittest game” word nog ‘n vrou aan die Oos-Rand verkrag, sterf nog ‘n jong seun aan die hand van bendegeweld op die Kaapse Vlakte, word die slaggate al groter in die Oos-Kaap, word nog ‘n skelm tendertransaksie beklink en gaan slaap ‘n kind vir die soveelste keer honger, want daar is nie kos in die plakkershut nie.
My hart bloei vir my land, Suid-Afrika. Die oorlog wat ons daagliks beleef is pynlik en genadeloos. En moet my in vadersnaam nie vertel dat dit ook maar in ander dele van die wêreld slegter gaan nie. Ná dertig jaar van skynbare demokrasie verdien ons beter!
- André Smith is ‘n jeugwerker en skrywer wie se rubrieke gereeld in Paarl Post en die Weslander verskyn. Hy is ook die skrywer van die bundels My Sandveldbos en Die Knokker Boomblom, wat beskikbaar is by Bargain Books-winkels. Jy kan dit ook aanlyn bestel by sales@malherbe-uitgewers.co.za of WhatsApp 068 301 7883, of op Amazon as Kindle of sagteband.





