BloemNuus

Rowers slaan toe op transito-voertuig op N8 by Bloemfontein

Nuuskieriges stroom na die toneel van ‘n transitorooftog op die N8. Foto: Verskaf

BLOEMFONTEIN – ‘n Groep rowers het Dinsdag 2 September om 09:00 met ‘n BMW in ‘n transitovoertuig vasgery om die voertuig van die pad af te dwing.

In die rooftog op die N8 tussen Botshabelo en Bloemfontein het die bestuurder van die transitovoertuig beheer verloor en die voertuig het gerol.

Kort daarna het skote geklap en die verdagtes het in ‘n grys Toyota Hilux van die toneel in die rigting van Botshabelo met ‘n onbekende bedrag geld gevlug.

Volgens AO Fekiswa Matoti van die Valke, ondersoek die Ernstige Misdaadondersoekeenheid die saak.

“Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie,” sê Matoti.

Lede van die Valke was teen Dinsdagmiddag nog op die toneel besig met die ondersoek.

Matoti vra enigiemand wat meer inligting oor die rooftog het om in verbinding te tree met lt. kol. Babane Skota by 079 509 4998 of 051 412 3000.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article