Worcester Standard & Breederivier Gazette

Rowers slaan laatnag toe op ambulanspersoneel in Zwelethemba

Die polisie ondersoek ‘n voorval waar rowers twee ambulanspersoneellede aangeval het.

WORCESTER – Berading is gereël vir twee getraumatiseerde ambulansvroue van Worcester ná ‘n noue ontkoming die naweek toe ‘n booswig hulle in die ambulans met ‘n mes gedreig en beroof het.

Volgens een van die vroue, wat verkies om anoniem te bly, het die aanval gebeur toe sy en ‘n kollega Sondagaand omstreeks elfuur na ‘n geval in Zwele­themba ontbied is.

Die pasiënt was ‘n volwasse asmalyer.

Volgens die ambulansvrou het sy – nadat hulle die pasiënt in die ambulans gelaai het – sowat 80 meter van die Zwelethemba-polisiekantoor stilgehou om haar kollega te help om mediese sorg aan die pasiënt te gee.

Sy sê die straat was daardie tyd van die aand redelik stil.

“Toe ek voor by die ambulans uitklim, het ek die twee voordeure gesluit en omgestap om my kollega te help.

“Toe ek die deur toetrek, toe staan daar twee mans buite voor my. Een van hulle het die deur weer opgeruk.

“Toe ek die deur weer wil toetrek, toe ruk hy die deur weer oop. Hy pluk toe ‘n mes uit en mik daarmee na my toe.

“Hy het op ons gevloek en gesê hy wil die tablet hê.

“Toe hy in die ambulans spring, toe draai ek my rug op hom, want ek wou nie sien hoe hy my met die mes steek nie.”

Chaos bars los

Volgens haar het chaos binne sekondes in die ambulans losgebars.

Sy vertel dat die pasiënt wat erg kort-asem was, uit die draagbaar opgespring het om die booswig te probeer verwilder.

Sy sê terwyl die een booswig besig was om hulle agter in die ambulans te beroof, het sy makker probeer om die een voordeur oop te kry, vermoedelik om sy hande op ‘n tweede tablet wat voor in die ambulans gelê het, te kry.

Volgens haar het beelde van haar kind en ander familielede van haar by haar verbygeflits.

“Die uitdrukking op die mans se gesigte was koud, desperaat en gevoelloos.

“Hy het uiteindelik die tablet uit my kollega se hand geruk en weggehardloop.”

Volgens haar het haar kollega uit die voertuig gespring en ‘n polisievangwa wat in die omgewing was voorgekeer.

Sy sê nadat die beamptes eers na hulle omgesien het, het hulle die rowers tevergeefs probeer agternasit.

Volgens haar was die een booswig geklee in ‘n swart kappietop en sy makker in ‘n rooi een.

Bang om na pasiënte toe te gaan

Sy sê ná die voorval het sy die ambulans tot by die polisiekantoor in Zwele­themba gery.

Volgens haar het ‘n tweede ambulans die pasiënt kort hierna opgelaai en hospitaal toe vervoer.

“My skouer het in die proses seergekry. Ek het my nog nooit in so ‘n erge situasie bevind nie. Ek kry nou nog terugflitse.

“Ons moet nou bang-bang na pasiënte toe gaan, want ons weet nie wat vir ons voorlê nie.

“Ek wil net vir die skelms sê: Die volgende oproep kan dalk wees van ‘n familielid van julle wat siek is, dan kan ons niks doen nie, want ons is aangeval.”

AO Vathiswa Jacobs, ‘n polisiewoordvoerder, sê die voorval het op die hoek van Mayinjana- en Mtwazi-weg plaasgevind. Volgens haar ondersoek die polisie ‘n roofsaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article