Deur Maretha Botes
Ná ‘n jaar van vele beproewinge het ’n vriendin onlangs oor ’n koppie koffie erken: “Ek wil weer heel voel en alles in my weer in balans bring. Ek wil weer soos myself voel en net eenvoudig dolgelukkig en tevrede wees. Die probleem is, ek weet nie hoe of waar om te begin nie. Ek weet nie eens presies hoekom ek voel asof ek nie heel is nie.”
Ek het in stilte geluister. Ek kon my net voorstel hoe moeilik dit vir my vriendin was om al die rolle te vul en al die spreekwoordelike balle in die lug te hou: Entrepreneur, vrou, ma van drie. Antwoorde het ek nie gehad nie. Wat sou dit beteken om heel te wees? Hoe beland ’n mens waar jy voel jy is nie heel nie. Is dit realisties om “heel” te wil wees en beteken dit dat jy nooit weer gebroke sal voel nie?
Wat sou dit beteken om heel te wees?
Volgens Nila Conzen, ’n holistiese afrigter in Hamburg, Duitsland, is heelwees (of wholeness) ’n komplekse en uiters persoonlike kwessie. Dit sluit alles in wat van ons ’n mens maak – verstand, liggaam, siel, emosies en verhoudings. Plus alle ervarings wat ons gevorm het. Geen een hiervan kan afsonderlik in ’n vakuum bestudeer, onder ’n mikroskoop geplaas, of ontleed word nie.
Nila het ná ’n tien jaar lange reis om uit te vind wat dit beteken om “heel te wees”, sielkunde studeer om die proses van heelword beter te verstaan.
Sy het ’n diep verlange ervaar om op ’n plek te kom waar sy finaal kon sê sy is volkome wie sy veronderstel is om te wees – sy is “heel”. Dit het gekom nadat sy byna haar lewe verloor het ná ’n stryd met ’n eetversteuring wat as gevolg van erge fisieke en emosionele trauma ontwikkel het.
Op haar webwerf sê Nila: “Vandag weet ek dit is nooit te laat om jouself te (her)ontdek en te (her)skep sodat jy die pragtige mens kan wees wat jy altyd veronderstel was om te word nie. Jy het nie nodig om gefix te word nie. Mense breek nie. Hulle kry seer en hulle raak gesond. Wat as ons in werklikheid hier is om meer en meer onsself te word? Wat as die helingsproses nooit die doel van ’n uiteinde het nie, maar eerder die pad tot ’n dieper sin van heelwees en behoort is? Die vrae het egter steeds nie antwoorde nie.”
Hoe ervaar ons heelwees?
Tanya Muir, ’n arbeids- en slaapterapeut van Johannesburg, sê die definisie van heelwees word grootliks beïnvloed deur hoe ons elkeen heelwees in ons eie rolle, waardes en kultuur ervaar. “Baie keer voel iemand gebroke of onvoldoende, want hulle ervaar ‘n tekortkoming in een of ander gedeelte van hul menswees. Volgens arbeidsterapie kan ons welstand (of ‘n gebrek daaraan) as fisiek, verstandelik, emosioneel, spiritueel, in ons werk of sosiaal, finansieel en in ons omgewing ervaar. Ek sou sê iemand kan ‘heel voel’ wanneer daar harmonie tussen al die verskillende dele is, en hulle saam betekenis aan iemand se lewe gee,” sê sy.
Tanya glo dit is onmoontlik om n toestand van heelwees sonder gesonde verhoudings met ander te bereik. “In die werk wat ek doen, sien ek dikwels hoe geestesgesondheid verbrokkel wanneer menseverhoudings verwaarloos word. Wanneer ’n mens alleen begin voel, voel of jy geen ondersteuning het nie en geïsoleer voel, is dit ’n teken dat jy op een of ander vlak van jou lewe ongesond is,” sê sy.
Hoe word ek heel as ek soveel rolle het?
Die eerste wenk wat Tanya gee, is die noodsaaklikheid om op ander staat te maak. “Ons het nodig om die rol te erken wat ander in ons lewe speel. Of dit jou lewensmaat, vriend, werkgewer, ouer, broer of suster, of selfs jou bure of vreemdelinge is. Dit is belangrik om verhoudings met ander te bou, om nie bang te wees om hulp te vra nie en ander toe te laat om jou by te staan as dit nodig is. Dit is egter ook nodig om die eerlike terugvoering van ander oor ons eie gedrag te kry sodat ons onsself kan verbeter.”
Sy noem verder hoewel dit nodig en belangrik is om verhoudings met ander te koester en gesond te hou, is alleentyd óók waardevol en belangrik. Dit is nodig om verhoudings, wat deel van jou geestelike welstand vorm, te koester (soos met God en die natuur). Of alleentyd kan nodig wees om net ‘n blaaskans te neem daarvan om “nodig” (vir ander) te wees.
“Om ‘n ma, vrou, ondernemingsbestuurder en terapeut te wees, het tot gevolg dat my dae dikwels verbyvlieg met dit wat ek aan ander moet gee. My ‘tenk’ is dikwels teen die einde van ‘n besige dag leeg. As ek só voel, is dit beslis nie goed vir my verhoudings met huismense of kliënte nie. Dit is dus in die beste belang van my verhoudings dat ek ook my eie batterye herlaai deur bietjie alleentyd te hê of aktiwiteite te doen waarvoor ek lief is,” sê Tanya.
Hoe integreer ek al my rolle?
“Ek het geleer om al die rolle wat ek speel te integreer. Dit behels dat ek eerstens die druk op myself moet verlig. Ek kan eenvoudig nie heeltyd 100% van alles wees nie. En dit is oukei,” sê Tanya.
Sy sê dit help om doelwitte vir die week te beplan en realisties te wees oor dit wat sy kan bereik. “Daar is altyd onverwagse uitdagings of verwagtinge (veral met drie kinders!). Ek het dus geleer om nooit te ‘over commit’ nie. Deel hiervan is om dikwels dit te herevalueer waartoe ek in staat is. Soms kan ek meer hooi op my vurk laai, of daar is tye in die maand wanneer ek as gevolg van hormonale veranderings minder produktief is.
“Net omdat ek daagliks vyf uur het om kliënte te sien wanneer my kinders by die skool is, beteken dit nie ek moet daardie vyf uur met afsprake vul nie. Ek sal binne twee dae uitgebrand wees. En in so ’n geval sal my verhoudings in die stof byt.”
Tanya meen dit is belangrik om op te hou om die woord “balans” te gebruik en dit met “balansering” te vervang. “Balans” skep die indruk dat dit moontlik is om op ’n plek te kom waar alles ewe veel versorg is, maar dit is eenvoudig onmoontlik. “Balanseer”, daarteenoor, beteken dat jy konstant besig is om dit wat in jou lewe gebeur te bestuur.
“Dit is ’n dinamiese reis en behels dat ’n mens konstant die strategieë herevalueer wat jy gebruik om op die balanseerkoord staande te bly!”
Hoe kry ek die balanseertoertjie reg?
Stop. Haal asem. “Dit is heeltemal oukei om ’n paar keer per dag te stop en rustig te wees. Sit op die bank, sonder jou selfoon. Staar na die reën. Maak jou oë toe en luister na jou asemhaling. Kyk hoe jou kinders speel. Doodle, luister musiek, stap kaalvoet op die gras, kou jou kos stadig en proe dit. Ons lewe is te besig en te vinnig. Die lewe gaan verby en ons leef dit nie. Om die lewe bewustelik te lewe, is ’n uitdaging as jy nie daaraan gewoond is nie, maar deur klein oomblikke elke dag te skep om te rus en dinge in te neem, is ’n goeie begin. Om na jou ‘heelwees’ om te sien, beteken dat jy iets doen om elke deel van jou welstand te koester op ’n manier wat sin maak en vir jou as individu betekenis gee,” sê Tanya.
Ná die gesprek met my vriendin oor haar soeke na heelword, het een ding duidelik geword: Niemand is op die aarde gesit met ’n handleiding oor hoe om jou beste lewe te leef nie. En in vandag se tyd wat alles om tegnologie draai, is die druk op ’n ieder en ’n elk geweldig om die beste weergawe van hulself te wil wees. Volgens Nila is die probleem hier dat ons soms ’n verdraaide beeld het van wat “die beste weergawe” is weens die massas se siening van “beste”. Dit skep ’n boksie waarin ons moet pas. Maak liewer tyd, sorg vir jouself, koester jou heelwordreis, wees bewus van jou verhoudings en raak rustig.
Lees ook: Tydskrifuittreksel: Steel jou tyd terug | rooi rose
