Dis tyd om die bollas los te maak en jou gate uit te geniet met Scenario Productions se Hairspray. Hulle bring hierdie onweerstaanbare musiekblyspel vir die eerste keer sedert 2007 terug na die Suid-Afrikaanse professionele verhoog.
Die musiekblyspel is van 22 Oktober tot 7 November 2026 by Die Centurion Teater te sien. Dit beloof groot stemme, groter persoonlikhede, plofbare choreografie en ’n storie wat vandag nog so relevant en vreugdevol as ooit is.
Vir Suid-Afrikaanse teaterliefhebbers sal dit die eerste geleentheid in sowat 20 jaar wees om Hairspray professioneel op eie bodem te ervaar.
Hairspray speel in Baltimore in die jare sestig af. Tracy Turnblad (Carley Janse van Vuuren) is ’n tiener met ’n groot hart en groot drome. Dis haar hartsbegeerte om op die gewildste tienerdans-TV-program, The Corny Collins Show, te dans. Wanneer sy uiteindelik haar beurt in die kollig kry, ontdek sy dat die roem oor veel meer as gewildheid gaan. Soms kan een mens ’n reuseverskil maak.
Namate Tracy die onregverdige reëls wat mense op TV, in die gemeenskap en by die skool skei, verander haar dansdroom in ’n vreugdevolle stryd om integrasie, aanvaarding en gelykheid.
Tiaan Kirsten-Lubbe en Lian Sachse, die regisseurs en uitvoerende vervaardigers, sê hulle is verheug om Hairspray na Die Centurion Teater toe te bring. Soveel te meer omdat die musiekblyspel se boodskap van gelykheid en inklusiwiteit steeds by gehore aanklank vind.
“Ons is ongelooflik opgewonde om gehore die geleentheid te gee om hierdie besonderse musiekblyspel weer op die verhoog te beleef. Hoewel die musiekblyspel oorloop van kleur, komedie, wonderlike musiek en skouspelagtige danse, bly die kern die boodskap oor gelykheid, inklusiwiteit en aanvaarding.
“Tracy se reis herinner dat niemand uitgesluit behoort te word as gevolg van wie hulle is, hoe hulle lyk of waar hulle vandaan kom nie. Deur vreugde en vasberadenheid, inspireer Tracy ander om op te staan en ’n verskil te maak. Met so ’n aktuele boodskap, hoop ons gehore verlaat die teater deeglik vermaak, bemoedig en opnuut bewus van die krag wat daarin lê om ons verskille te vier.”
rooi rose het by Carley Janse van Vuuren ingeloer:
1. Hoe sluit hierdie musiekteaterrol aan by die loopbaan wat jy vir jouself bou?
Musiekteater was nog altyd ’n reuse-droom vir my! Dit bring alles waaroor ek passievol is op een plek bymekaar. Om Tracy Turnblad te speel, is vir my ’n groot stap vorentoe. Dit wys vir mense dat ek veelsydig is en nie net in een boksie hoort nie, maar dat ek regtig my alles op ’n groot verhoog kan gee.
2. Hoe het die voorbereiding vir hierdie rol jou uitgedaag?
Sjoe, die fiksheid wat ’n mens vir Tracy nodig het, is ongelooflik! Sy is feitlik die hele tyd op die verhoog en dans voluit terwyl sy op haar hoogste sing. Ek moes regtig hard aan my stamina werk en my stem anders leer gebruik sodat ek dit nie ooreis nie. Die moeilikste deel is om al die ingewikkelde danspassies natuurlik en maklik te laat lyk terwyl jy steeds in jou karakter bly.
3. Dis ’n sterbelaaide rolverdeling. Watter raad het jy gekry wat jou bybly?
Dit is ’n absolute eer om saam met mense te werk wat die bedryf so goed ken. Die beste raad wat ek gekry het, is om altyd ingestel te wees op die oomblik en jou medespelers op die verhoog te vertrou. Hulle het my ook herinner om in my eie vermoëns te glo en die gehoor se energie te gebruik in plaas daarvan om my daardeur te laat oorweldig.
4. Wat het jy met Tracy gemeen en in watter opsigte verskil julle?
Net soos Tracy is ek heeltemal verlief op musiek en het ek drome wat soms groter voel as wat mense dink moontlik is! Ons albei glo ook daarin om mense te aanvaar soos hulle is en mekaar met goedheid te behandel.
Tracy is soms heeltemal waagmoedig en doen net dinge sonder om twee keer te dink! Ek is iemand wat ’n bietjie meer vooruitbeplan en eers mooi oor dinge nadink voor ek ’n sprong neem.

Carley Janse van Vuuren vertolk die rol van die borrelende Tracy Turnblad in die eerste professionele vertoning van ‘Hairspray’ sedert 2007
5. Wat is jou gunstelingdeel in die musiekblyspel, en hoekom?
Definitief “Welcome to the 60’s”. Hierdie nommer laat my so baie aan my eie verhouding met my ma dink. Dit is die oomblik waar Tracy vir haar ma, Edna, uit haar dop help en sy die wêreld uit ’n nuwe hoek leer ken. Die kostuums, die harmonieë en die hele 60’s-gevoel is pret!
6. Watter tema in Hairspray spreek die meeste tot jou?
Om net te wees wie jy is en op te staan vir wat reg is. Hairspray takel belangrike temas soos selfaanvaarding en inklusiwiteit, maar dit doen dit deur middel van vreugde, musiek en hoop. Dit herinner ’n mens daaraan hoe belangrik dit is om mekaar se verskille te vier.
7. Is daar iets waaroor jy opgewonde is vir die gehoor om te beleef?
Ek kan nie wag dat die gehoor die hele 60’s-atmosfeer beleef nie! Die helder kostuums, die groot hare, die aansteeklike musiek en die sprokiemooi storie … Mense gaan met ’n groot glimlag en ’n goeie gevoel uit die teater stap.
8. Hoe het jou ervarings op Die Kontrak en as liedjieskrywer jou vir hierdie rol voorberei?
Die Kontrak het my geleer hoe om kalm onder druk te bly en hoe om te presteer wanneer die kollig op jou is. As liedjieskrywer kyk ek weer baie na die storievertelling agter die lirieke. Dit help my om Tracy se karakter dieper te verstaan en die liedjies met opregte emosie te lewer.

Carley Janse van Vuuren. Foto: Verskaf
9. Van radiowerk, liedjieskryf en musiekteater – sonder watter een sal jy nie kan leef nie?
Eerlikwaar? Ek sal glad nie sonder enigeen van hulle kan leef nie! Hulle vul mekaar almal so perfek aan. Liedjieskryf is my hart en waar ek my eie stories vertel, radiowerk hou my verbind met mense, en musiekteater bring al my passies op ’n verhoog saam. Dit vorm alles deel van wie ek as kunstenaar is!
10. Wat lê volgende vir jou voor?
Ek sal absoluut mal wees daaroor om nog musiekblyspele te doen, maar ek beplan vir seker om ook nog van my eie musiek uit te bring! Ek skryf reeds aan nuwe liedjies en kan nie wag om dit te deel nie, terwyl ek ook my voetspoor in die teaterwêreld wil uitbrei.
Moenie dit misloop nie:
22 Oktober-7 November 2026
Die Centurion Teater, Amkorweg nr. 123, Centurion
Kaartjies vanaf R350
Bespreek jou plek hier: https://qkt.io/HairsprayTheMusicalCT26
Twee gelukkige lesers kan elk dubbelkaartjies wen vir Hairspray se openingsaand, 22 Oktober om 19:30!
Om in te skryf, voltooi die onderstaande vorm:
Sluitingsdatum: 21 Oktober 2026
Bepalings en voorwaardes: Alle pryse in rooi rose is onderhewig aan beskikbaarheid en is nie oordraagbaar, herverkoopbaar of terugbetaalbaar vir kontant nie. Vir nog bepalings en voorwaardes, besoek novanews.co.za/rooirose
Lees ook: WEN 1 van 3 Simply Bee-mondhigiënegeskenkpakke ter waarde van R800 elk | rooi rose
