Deur Ilette Coetzer
Wat beteken dit om eensaam te wees? Die woordeboek beskryf eensaamheid as iemand wat alleen of sonder vriende of geselskap is, maar eensaamheid is in werklikheid ‘n baie intense emosie, en vir meeste mense, ongelooflik pynlik.
Irene Haasbroek, ‘n multidissiplinêre praktisyn van Kimberley, sê dis belangrik om te besef dat eensaamheid egter slegs ‘n emosie is. “Eensaamheid is ‘n interne emosie en nie noodwendig ‘n weerspieëling van jou werklike situasie nie, al voel dit vir jou só.” Ons lewe vandag met soveel tegnologie om ons wat mense eintlik aan mekaar moet verbind, tog voel baie mense toenemend meer eensaam en sonder verbintenis.
Wat veroorsaak daardie leë gevoel?
Omstandighede wat daartoe aanleiding kan gee:
- Sosiale angstigheid of om deur ander beoordeel te word — is ander se menings oor jou vir jou belangrik? Voel jy asof jy op sosiale media moet wys dat jy fantastiese ervarings het? Dink aan of foto’s op Facebook en Instagram ‘n ware weerspieëling van mense se binnekring is en of dit net dit is wat hulle jou toelaat om te sien.
- Egskeiding of die beëindiging van ‘n verhouding — dis vir enige mens traumaties, maar iemand wat in ‘n ongelukkige huwelik vasgevang is, is nie noodwendig in ‘n beter situasie nie. “Daar is niemand so alleen soos iemand wat in ‘n liefdelose huwelik vasgevang is nie.” Só sê Marianne* nadat sy slegs ‘n paar maande met Anton* getroud was. “Ek was nog nooit in my lewe so eensaam nie. Jy mag nie met vriendinne uitgaan nie, maar jy het ook nie geselskap by die huis nie.” Marianne het in ‘n diep depressie verval, en dit het haar maande geneem om weer haarself te vind en na ander uit te reik. “Jy kan die gevoel vir niemand beskryf nie. Almal lag en gesels om jou, en jy kan nie met hulle identifiseer nie. Jou lewe is leeg.”
- Die begin van ‘n nuwe fase, soos universiteit of die geboorte van ‘n kind — praat met enige nuwe ma wat skielik 24 uur by haar huis saam met haar nuwe baba is. Reana* het so uitgesien na haar seun se geboorte. Hy was egter ‘n koliekbaba wat in die begin amper onophoudelik gehuil het. Tydskrifte en die media verwys na daardie eerste ongelooflike paar weke met jou nuwe baba. Reana het egter gesukkel om met haar baba ‘n band te vorm en van kuier met vriendinne was daar geen sprake nie. Haar man het gelukkig besef dat sy in ‘n depressie begin verval, en hulp gereël voor dit te laat was. Hulle het ‘n oppasser gekry om haar te help, en sy kon weer nou en dan saam met vriendinne begin kuier.
- Enige trauma, wat ‘n wye verskeidenheid ervarings kan insluit, soos ‘n lae selfbeeld.
- Werksverandering — om na ‘n nuwe dorp te verhuis, kan amper voel of jy na ‘n ander land immigreer. Susan* het na ‘n nuwe dorp in ‘n ander provinsie verhuis. Sy het niemand geken nie en al hoe meer na haar vorige lewe verlang. Sodra die kinders by die skool afgelaai is, het ‘n doodse stilte oor die huis gesak. Waar begin jy om nuwe vriende te maak? Sy het haar nuwe dorp as baie “klikerig” ervaar. Dit het haar lank geneem om haar voete te vind.
- Emigrasie — amper almal van ons ken iemand wat geëmigreer het. Die taal, mense, kultuur en eetgewoontes is volksvreemd. Jou waardes verskil en mense dink net nie soos jy nie. Die meerderheid van mense wat hulle in so ‘n posisie bevind, verlang en ervaar lang tye van intense eensaamheid.
- Aftrede — werkgeesdriftiges is diegene wat die meeste met aftrede stoei. En dit is gewoonlik nie net die persoon wat aftree wat swaarkry nie, maar ook sy of haar gade. Skielik is julle al twee by die huis, jou vriende en familie werk, en jy moet van voor af ‘n nuwe identiteit opbou. Hoe nou gemaak?
Irene gee raad vir eensames
1. Neem beheer
Raak bewus van hoe jou gedagtes jou werklikheid vorm. Ons het ongeveer 60 000 gedagtes per dag, waarvan 75% negatief is. Probeer om bewustelik positiewer te dink.
2. Moenie jouself met ander vergelyk nie
Ons leef in ‘n era waar ons danksy sosiale media meer met mense in verbinding is, en ons sien elke dag wonderlike ervaringe wat ander mense oor hul lewe deel. Prestasies wat behaal is en gesellige kuiers word met foto’s bevestig, en dit kan jou soms laat voel of jy die enigste mens is wat nie ‘n sosiale lewe of vriende het nie. Onthou dat dinge nie altyd is soos wat dit op sosiale media lyk nie. Ons sien slegs wat mense ons toelaat om te sien, en jy weet nie regtig wat in hul lewe aangaan nie.
3. Jy verdien gehalteverhoudings
In plaas daarvan dat jy ‘n klomp verhoudings het, maak seker dat jy eerder verhoudings van goeie gehalte bou. Om met ander mense te verbind, help om eensaamheid te verdryf. Vind “jou mense”. Daar is mense daarbuite met dieselfde waardes, geloof, stokperdjies en belange as joune. Maar dit gebeur nie net nie, jy moet van jou kant af na ander uitreik. As jy jou byvoorbeeld in ‘n nuwe dorp of land bevind, sluit dan so gou as moontlik by ‘n klub of gimnasium aan of skakel by die kerk in. Raak by jou gemeenskap betrokke.
4. Verwerk jou emosies op ‘n gesonde manier
Leer om jou emosies te herken. Om emosies te ervaar, is deel van die lewe. Moenie probeer om dit te onderdruk nie, maar aanvaar dit. Begin met ‘n joernaal en skryf daarin hoe jy voel. Dit sal help om jou gevoelens te verwerk.
5. Keer dat sosiale media jou emosies beïnvloed
Wees bedagsaam wanneer jy op sosiale media is. Deur sekere mense of groepe op sosiale media te vermy en ander te volg, kan jou bemagtig om jou emosies te beheer. Moenie bang wees om byvoorbeeld ‘n kennis van jou Facebookblad af te haal nie. Wees krities met jou internetverhoudings. Elektroniese verhoudings gaan nie daardie leemte in jou lewe vul nie.
6. Oorkom beperkende oortuigings
Identifiseer beperkende oortuigings wat jy van jouself het en wat jou daarvan weerhou om jou volle potensiaal te bereik. Dit gebeur baie dat jy ‘n aanmerking van ‘n vriendin of gade as ‘n feit aanvaar. Net omdat jou lewensmaat vir jou sê dat jy moet begin kyk na wat jy eet, beteken dit nie dat jy oorgewig, vet of lelik is nie. Daag hierdie selfopgelegde hindernisse uit.
7. Leer om aanpasbaar te wees
Die lewe is vol uitdagings en hoe ons hierby aanpas, is wat saak maak. Irene sê ons moet leer om aan te pas, buigsaam te wees, en uitdagings as geleenthede eerder as probleme te sien.

Raad vir eensames. Foto: Thilina Alagiyawanna, Pexels
8. Begin ‘n nuwe stokperdjie
Dit klink dalk afgesaag, maar dink mooi oor waarvan jy regtig hou. Wou jy nog altyd leer kook, of hou jy van tuinwerk? Begin dalk jou eie groentetuin. Stokperdjies help nie net om eensaamheid teen te werk nie, maar bou ook selfvertroue op en help jou om ‘n nuwe vaardigheid aan te leer.
9. Leer ‘n gees van dankbaarheid aan
Fokus op dit wat jy het, eerder as dit wat jy nie het nie. Dis soms moeilik, veral as jy deur ‘n moeilike fase in jou lewe gaan. Almal om jou lyk gelukkig, hul kinders floreer en hulle het genoeg geld. Dit is gewoonlik ver van die waarheid. Begin om aandag te gee aan dinge, klein of groot, waarvoor jy dankbaar kan wees.
10. Leer om van die oomblik bewus te raak
Ons neig om in die verlede of toekoms rond te dwaal. God gee jou genoeg krag en genade vir elke dag. Ons kan nie gister se gebeure of môre se probleme met vandag se krag hanteer nie. Wanneer jy dit probeer doen, lei dit tot depressie en angs. Irene sê daar is verskeie tegnieke wat jou in die nóú kan hou.
11. Weet dat eensame tye tydelik is
Onthou dat vele mense oor die feestyd, wat deur familie, vriende en feestelike kuiers gekenmerk word, alleen is. Baie ouers se kinders woon oorsee, en dit is nie moontlik om die tye bymekaar te wees nie. Die verlange is groot, en hul plekke langs die Kerstafel leeg. Probeer om in die tye met ander mense te kuier wat in dieselfde situasie as jy is. Wees jy die een wat uitreik en ‘n helpende hand na ‘n ander eensame ouer uitsteek.
12. Mediteer
Jy voel soms verwerp deur die wêreld en sy mense, en soms is dit so. Mense gaan jou teleurstel, maar onthou God se liefdevolle teenwoordigheid wat jou aanvaar net soos wat jy is.
13. Kry professionele hulp
Soms beland ‘n mens in so ‘n diep gat dat dit amper onmoontlik is om alleen daar uit te kom. Gaan betyds vir hulp, of dit nou by ‘n vriendin, geestelike leier, of sielkundige is. Dit maak nie saak waar jy begin nie, begin net om die leemte in jou lewe te vul.
Is jy meer vatbaar vir eensaamheid?
- Jy het min vriende.
- Jy en jou familie is vervreem.
- Jy is ‘n enkelouer.
- Jy moet ‘n geliefde of vriend versorg.
- Jy behoort aan ‘n minderheidsgroep in ‘n sekere plek, en daar is min mense in jou omgewing wat soos jy dink.
- Jy is in ‘n destruktiewe verhouding, en vind dit moeilik om na ander uit te reik.
- Geld is beperk, wat sosialisering moeilik maak.
*Skuilname
