Deur Christa Swanepoel
Wat is trauma?
Die formele definisie wat in die DSM voorkom, beskryf trauma onder meer as volg:
The person experienced, witnessed or was confronted with an event or events that involved actual or threatened death or serious injury or a threat to the physical integrity of self or others.
“Ek het menige keer in my werk gesien dat trauma wyer as hierdie definisie strek. Die Instituut vir Traumatalogie se definisie van trauma is meer in die kol,” sê Yvonne Retief, wat al 35 jaar lank traumaberading doen, in haar boek Genesing ná trauma.
Hul definisie van trauma is: ‘n Persoon het trauma beleef indien hy of sy blootgestel is aan gebeure wat te make het met sy of haar lewensomstandighede of met sy of haar lewensfase en wat tot gevolg het dat daardie persoon se gewone hanteringsmeganismes lamgelê is.
Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angs-Steungroep (Sadag) is enige situasie traumaties wat jou oorweldig, geïsoleer en bevrees oor jou veiligheid en lewe laat voel.
Traumatiese ervarings vernietig ons verwagtinge van veiligheid en beheer en maak ons emosioneel seer.
“Daar is ‘n legio van verskillende traumareaksies en tipes trauma wat ‘n mens kan beleef,” verduidelik dr Hermann Liebenberg, sielkundige en jare lange traumaberader.
“Om met trauma waar te neem waardeur iemand anders gaan, kan byvoorbeeld ook trauma ontlok. Ons verwys daarna as sekondêre trauma en dit kan baie skade berokken.
“‘n Ander vorm van trauma is gekompliseerde Posttraumatiese Stresversteuring (PTSV) wat veral gekenmerk word deur trauma wat oor ‘n lang tydperk voorgekom het (dikwels uit die kinderdae) en manifesteer met nie net van die PTSV-simptome nie, maar ook vele ander.
“Dit is egter ‘n baie gekompliseerde veld en dus is dit nodig om iemand wat in gekompliseerde trauma opgelei is, te nader om hierdie tipe trauma te hanteer.”
Oorsake van trauma
Sadag lys ‘n paar faktore wat as trauma beleef kan word en wat eenmalig kan voorkom of voortdurend kan wees.
- Ongeluk
- Motorkaping, gruwelaanval
- Huisroof of persoonlike aanval
- Huishoudelike geweld
- Boeliegedrag
- Om in ‘n misdaadgeteisterde buurt of huis te bly
- Aanhoudende waarneming van misdaad, geweld of teistering
- Lewensbedreigende siekte
- Werkloosheid
- Chirurgie
- Dood van ‘n geliefde
- Beëindiging van ‘n verhouding
- Natuurrampe
Beleef alle mense trauma dieselfde?
Nee, daar is nie ‘n regte of verkeerde manier om op trauma te reageer nie. Daar is wel drie groepe simptome van trauma wat kan voorkom:
- Indringende simptome – ontstellende herinneringe wat met jou lewe inmeng, soos nagmerries, verandering van eetlus, angs en vrees, voel pal geïrriteerd, ontsteld of kwaad, kan nie konsentreer nie, bly moeg, voel depressief en hartseer.
- Hipersensitief – voel senuweeagtig en oorreageer op dinge soos ‘n harde geluid.
- Vermyding – bly weg van plekke, dinge en mense wat jou aan die trauma herinner.
Wat is PTSV?
As ‘n mens trauma beleef het, gaan jy deur ‘n psigologiese proses om die ervaring te aanvaar (sien simptome van trauma).
Uiteindelik hou hierdie simptome op en word die voorval deel van jou lewensgeskiedenis, maar soms is die integrasieproses onvolledig en ontwikkel die persoon posttraumatiese stresversteuring (PTSV).
Behandeling vir trauma
“Wat ‘n mens direk ná ‘n trauma sal doen hang af van wat die trauma is,” sê Yvonne. As jy beseer is, moet jy natuurlik mediese hulp kry, indien jy onder gevaarlike omstandighede is, moet jy so gou moontlik op ‘n veilige plek kom en hulp kry, indien jy verkrag is, moet jy so gou moontlik by ‘n hospitaal uitkom.
“As jou situasie nie sulke onmiddellike optrede vereis nie, moet ‘n mens in gedagte hou dat enige terapie nie dan gaan werk nie; jou brein is vir minstens 72 uur heeltemal oorspoel van streshormone en jy kan nie helder dink nie, dan het jy net nodig dat daar na jou geluister word, sonder dat jy allerhande ‘raad’ of vertellings van ander se trauma hoor.
“As jy ná ses weke nog bogenoemde simptome van trauma toon, moet jy na ‘n berader, maatskaplike werkster of sielkundige gaan wat regtig weet hoe om traumawerk te doen.
“Jy moet in elk geval seker maak dat die persoon na wie jy gaan, vertroud is met traumaberading en dat daar nie week na week oor dieselfde situasie gepraat word nie.”
Dr Hermann voeg by dis dikwels nodig om die hulp van ‘n psigiater in te roep om te help om met komorbiede aspekte soos depressie, angs en wat ook al manifesteer, te werk voordat terapie begin, aangesien jy dan die pasiënt in ‘n meer optimale plek kry waar jy met die behandeling van trauma kan inval.
“Ons benadering om gekompliseerde trauma (wat dikwels vanuit kinderdae voorkom) te hanteer, vereis ‘n kenner op die gebied.
“Dikwels het getraumatiseerde pasiënte ‘n vrees vir sielkundiges en is dit raadsaam om ‘n verhouding te bou voordat daar met die dieperliggende aspekte van trauma gewerk word,” sê dr Hermann.
Watter tipe terapie sal help?
“Daar is ‘n legio van terapieë wat doeltreffend kan wees en ek sal nie een bo die ander stel nie,” sê dr Hermann. “Ek gebruik dikwels aspekte van verskillende tegnieke om ‘n gewenste oplossing te vind om sinvol met die pasiënt te werk.”
Eweneens is dit ook nodig om na die pasiënt se ondersteuningstelsel te kyk aangesien terapie nutteloos is as die pasiënt byvoorbeeld elke dag na die oortreder toe teruggaan. ‘n Goeie en betroubare ondersteuningstelsel kan ‘n baie positiewe impak op die pasiënt se beleving van trauma hê.
Trauma maak ‘n mens soms sterker. Dit is nie die ideaal nie, maar dit kan ‘n pasiënt bemagtig in die situasie waarin hy homself bevind.
Alternatiewe maniere
TRE (Tension and Trauma Releasing Exercise)
Dit behels ‘n reeks matige oefeninge wat die liggaam help om van trauma uit die verlede wat in die liggaam gestoor word, ontslae te raak. Die persoon hoef nie oor die trauma te praat nie.
Kontak Stephen Sweetman, www.safecare24.co.za
Neuroterugvoering
Normale breingolwe kan onder meer deur trauma belemmer word en die lyer haak daar in sy denke en optrede vas, wat die manier waarop ‘n mens funksioneer beïnvloed.
Neuroterugvoering help op ‘n nie-indringende, natuurlike manier om nuwe, gesonde “verbindings” in die brein te skep sodat die persoon meer doeltreffend en gebalanseerd kan leef.
Kontak Kerry Rudman, www.brainharmonics.co.za
TIR (Traumatic Incident Reduction)
TIR is ‘n vinnige metode om doeltreffend traumatiese stres weens emosionele en/of fisiek pynlike gebeure te verminder. In die terapiesessie sal die persoon eerstens die traumatiese gebeurtenis identifiseer, daarna sal hy die gebeure in sy gedagtes herbeleef en rapporteer wat hy beleef het. Die proses word in een sessie verskeie keer herhaal sonder enige insette van die terapeut. Die brein desensitiseer die pyn, verwerk die voorval en laat jou toe om aan te beweeg.
Kontak Yvonne Retief, yvonneretief.weebly.com
Brainspotting
Brainspotting is ‘n neurologiese intervensie. Dit kom daarop neer dat die terapeut by die kerngebied in die brein waar die trauma gestoor is uitkom, die trauma onttrek en verwerk sodat die brein se primitiewer dele wel die veg-of-vlug-reaksie kan uitvoer.
Kontak 012 643 1594 (Erika) vir ‘n traumaterapeutverwysing.

“Daar is ‘n legio van terapieë wat doeltreffend kan wees en ek sal nie een bo die ander stel nie,” sê dr Hermann. Foto: Liza Summer, Pexels
