Dinsdag, 16 Desember 2025, sal as ‘n gedenkwaardige dag in die geskiedenis van die Geloftedagherdenking onthou word. Ongeveer 40 000 mense het by die Voortrekkermonument in Pretoria byeengekom om hierdie dag – een van die belangrikste in die Afrikaanse kultuurgemeenskap se kalender – te vier. Daarmee was hierdie die grootste bywoning van Geloftedag in dekades.
Vir menige Afrikaner is Geloftedag veel meer as bloot ‘n openbare vakansiedag; dit is ‘n dag van diepe geskiedkundige en geestelike betekenis, wat reeds 187 jaar lank ná die Slag van Bloedrivier telkens getrou herdenk word. Hoewel die Voortrekkermonument tradisioneel sentraal tot die viering staan, is daar vanjaar bykans 230 Geloftefeeste regoor Suid-Afrika en selfs op al sewe vastelande in 25 lande reg oor die wêreld aangebied – selfs so ver as Antarktika.
Dié jaar se viering in Pretoria het alle vorige verwagtinge oortref, nie net in omvang nie, maar ook in die intensiteit van gemeenskapsdeelname en die besonderse gevoel van onderlinge verbondenheid.
Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste, het die Afrikaner die afgelope jaar wee rnuwe internasionale en plaaslike aandag ervaar, wat op sy beurt ‘n herlewing van kulturele trots en ‘n sterk gevoel van samehorigheid meegebring het.

“Dit was ‘n dag van diepe dankbaarheid, samekoms en tradisie, en die Monument was oudergewoonte die hartklop van hierdie dag van dankbaarheid,” sê Brand.
Die dag het reeds in die vroeë oggendure begin toe duisende mense van dwarsoor die land, asook verskeie internasionale besoekers, in stille verwagting aangekom het. Die sonskynweer het die feesvieringe besonder spesiaal gemaak.
Ná die energieke samesang in ‘n stampvol amfiteater, het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, die massas verwelkom. ’n Hoogtepunt was toe ‘n replika van die beroemde kanon Grietjie skote afgevuur het – ‘n simboliese herinnering aan die oorspronklike kanon wat in 1838 by Bloedrivier gebulder het en waarvan die oorspronklike vandag in die Senotaafsaal te sien is.
’n Onvergeetlike oomblik het aangebreek toe Raynard Bosman, ’n graad 11-leerling van Hoërskool Pretoria-Noord en wenner van die FAK se Geloftedagkompetisie, die Gelofte aan die groot gehoor voorgedra het. Sy weergawe het die oorspronklike boodskap van die Gelofte kragtig aan die volgende geslag oorgedra.

Om 10:20 is die assegaaihekke geopen vir die menigte besoekers om toegang tot die monument te kry. Die geestelike klimaks is, soos elke jaar, presies om 12:00 bereik, toe die son se strale die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” op die senotaaf verlig het – ’n simboliese bevestiging van seën en erns wat ’n gevoel van heilige eerbied geskep het.
Vanjaar se Geloftedagviering staan uit as één waar Afrikaners van alle ouderdomme, agtergronde en ervarings – sommiges nuut, ander reeds generasies lank betrokkenes – aangesluit het in ‘n fees van tradisie, geloof en eenheid. Vir baie oorheers nie die getalbesoek nie, maar die diepe besef van God se getrouheid en die vennootskap van gemeenskap wat die dag bring.
“Geloftedag se simboliek en diepgang word nie in getalle gemeet nie, maar in die wete dat God gister en vandag getrou is, en dat ons deur Sy genade alleen ’n hoopvolle toekoms net hier kan bou,” sê Brand.
Die 2025 Geloftedagviering bevestig nie net die impak van hierdie tradisie nie, maar dien as inspirasie dat die Afrikaanse kultuurgemeenskap – gevestig in sy geskiedenis, maar lewendig in sy toekoms – steeds ’n bron van geloof, hoop en saamwees in Suid-Afrika bly.






You must be logged in to post a comment.