‘n Oud-Upingtonner, die 30-jarige Rayno Nel, is die naweek as die sterkste man ter wêreld aangewys.
Nel, wat 191cm in sy sokkies staan, het dié titel op Sondag 18 Mei tydens vanjaar se SBD World’s Strongest Man-kompetisie in Sacramento in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië verwerf.
Nel is die eerste Suid-Afrikaner, die eerste van die Suidelike Halfrond en die eerste van Afrika om die titel te wen.
In die kompetisie wat van 15 tot 18 Mei geduur het, het Nel vir Tom Stoltman van Skotland met ‘n halfpunt gewen. Stoltman is drie keer vantevore as die wenner van dié kompetisie aangewys.

“Dit oortref my wildste drome”, het Nel kort ná sy oorwinning in ‘n onderhoud gesê. Dit was sy eerste deelname aan dié veeleisende kompetisie.
In ‘n mediaverklaring het die organiseerders gesê Nel is die eerste nuweling sedert 1997 wat dié titel verwerf. Die kompetisie het in 1997 ‘n aanvang geneem.
In die eindstryd van die SBD World’s Strongest Man-kompetisie die afgelope naweek, en volgens die punteleer op die webwerf, het Nel die “Knaack carry and hoist” twee maal in 0:30.58s uitgevoer. Hy het ook drie stelle van die “18” max deadlift” gedoen en die “Herculus hold” vir 1:15.63s volgehou. Die “Flintstone press max” het hy eenmaal uitgevoer, en vier van die berugte “Atlas stones” in 0:30.17s opgelig.
‘Wie is hy, waar kom hy vandaan?’
Volgens kommentaar op die Facebook-blad SBD World’s Strongest Man, het Nel se oorwinning as ‘n verrassing gekom.
Nel, wat tot ongeveer drie jaar gelede “net rugby gespeel” het, word as ‘n “underdog” in dié kompetisie beskryf. Internasionale volgelinge van dié platform vra wie hy is en waar hy vandaan kom.
“I reckon he’d be able to juggle a few small elephants,” lui ‘n inskrywing. ‘n Ander een skryf: “Never heard of him!” Nog een beskryf hom as “WSM Rayno the Rhino Nel”.
Kommentaar van Suid-Afrikaners is maklik onderskeibaar: “Give him a Bok jersey,” waarop iemand reageer met: “Where would you get a Bok jersey to fit him?” ‘n Ander een vra: “Can we get him to do farm patrols?”
Nog kommentaar met ‘n Suid-Afrikaanse smaak is: “Is this a Spur advertisement? Because I can taste it…” en “His strength is from all the Checkers bags he needed to carry,” ook “That’s what you get when you let the farmer loose…” en “Rayno does strongman on the side. He works a full time job as an electrical engineer. Impressive to say the least.”
Suid-Afrikaanse ondersteuners skryf ook: “Wow! Now that’s a shocker! I expected this to be a 4th title for Tom Stoltman. Really happy for my South African brother though,” en “Very proud of this. First time someone has represented my hometown of Upington, internationally.”
Nog ‘n Suid-Afrikaner raai Nel aan: “Please come back home to boerewors, poikie kos, biltong, koeksisters. I don’t trust Donald Trump, and your nickname is Rhino.”
Nel geen nuweling in sportkringe
Hoewel Nel dalk tot die naweek toe redelik onbekend in die wêreld-sterkmankringe was, is hy geen onbekende in Suid-Afrikaanse sportkringe nie.
Hy was onder meer drie jaar lank kaptein van die eerste rugbyspan van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein, waar hy elektriese ingenieurswese studeer het. Nel was ook op die veld as ‘n Cheetah-speler.
Rondom die einde van 2022 en begin 2023 het hy besluit om sterkmankompetisies aan te pak.
Reeds met sy eerste deelname aan ‘n sterkmankompetisie in Suid-Afrika is hy as wenner aangewys. Hy is hierna onder meer genooi om internasionaal aan Strongman Champions League- (SCL) byeenkomste in Rusland, Nederland en Kaapstad deel te neem. In November 2024 is hy as die kampioen op ‘n wêreldbyeenkoms van die SCL aangewys. Dié byeenkoms in Turkye het Nel met ‘n agterstand van tien punte aangepak, maar hy het steeds gewen.
Nel het in 2013 aan die Hoërskool Duineveld matrikuleer. Hy woon en werk in Gauteng en is op 15 Maart getroud.

You must be logged in to post a comment.