PAARL – ‘n Mega-infrastruktuurprojek van R1,4 miljard is tans volspoed in die Drakenstein-vallei aan die gang, waar die munisipaliteit die grootste opgradering van sy riool- en afvalwaterstelsel nóg doen. Dit sluit in die opgradering en rehabilitasie van die Paarl-afvalwaterbehandelingswerke (WWTW) en die hoofrioolstelsel in Suidelike Paarl.
Die projek, wat reeds goed vorder, is daarop gemik om die volhoubaarheid en veerkragtigheid van die munisipaliteit se sanitasie-infrastruktuur te verseker en toekomstige groei te ondersteun.
Die nasionale departement van water en sanitasie (DWS) het die Drakenstein-munisipaliteit (DM) tydens ‘n oorsigbesoek op 19 Maart vir sy sterk projekbestuur en rekord van suksesvolle infrastruktuurlewering geloof.
Die DM het ‘n stewige geskiedenis van die implementering van groot opgraderings. Hierdie projek sal sy beoogde doel bereik om afvalwaterdienste in die Drakenstein te verbeter,” het Ntombizanele Bila-Mupariwa, die Wes-Kaapse hoof van die DWS, gesê.
Die projek is tans in fase drie en sal die vermoë vir afvalwater- en slykbehandeling aansienlik uitbrei om in die behoeftes van die Paarl, Mbekweni, Simondium, Wellington en omliggende gemeenskappe te voorsien.

Die Nasionale Tesourie het die munisipaliteit se aansoek reeds in Maart 2023, ná jare se deeglike tegniese beplanning en voorbereiding, goedgekeur en finansiering deur middel van die Bulk Facility for Infrastructure (BFI)-toelae toegeken.
Hierdie finansieringsmeganisme word net vir groot, hoë-impak- nasionale infrastruktuurprojekte wat ‘n langtermynbydrae tot ekonomiese groei, maatskaplike gelykheid, omgewingsvolhoubaarheid en werkskepping lewer, gebruik.
Bouwerk het danksy bykomende medefinansiering deur die DM self in September 2023 reeds begin.
Volgens Louis Pienaar, die DM se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, is die uitbreiding noodsaaklik om die streek se waterhulpbronne te beskerm.
“Ons verbeter die gehalte van uitvloeiwater, versterk slykbestuur en nakomingsmonitering en verseker die veilige uitvloei in die Bergrivier deur ons behandelingsvermoë te verhoog. Hierdie opgraderings takel huidige diensbehoeftes, terwyl dit ruimte skep vir volhoubare toekomstige ontwikkeling,” het hy gesê.
As deel van die moderniseringsproses is verouderde komponente by die Paarl-aanleg reeds met gevorderde stelsels vervang, waaronder nuwe inlaatwerke, pompe, rypwordingsdamme, besinktenks en grootskaalse skroefpompe.
Hierdie verbeterings vorm deel van ‘n moderne, energie-doeltreffende behandelingsproses wat ontwerp is om groter volumes te hanteer en beter omgewingsnakoming te verseker.
“Die nuwe infrastruktuur optimaliseer bedryfsdoeltreffendheid en verminder langtermyninstandhoudingskoste,” het Pienaar bygevoeg.
Die projek verloop volgens skedule en sal na verwagting tot die 2027-’28-boekjaar duur.





