STELLENBOSCH – Die Italiaanse gholfspeler Andrea Pavan is op pad na herstel in ‘n hospitaal op Stellenbosch nadat hy op Woensdag 25 Februarie drie verdiepings in ‘n hysbakskag geval het.
Volgens ’n GoFundMe-veldtog wat gestig is deur Matt van Zandt, een van Pavan se voormalige kollege-spanmaats, het die voorval plaasgevind by sy verblyf plaasgevand. Die hysbakdeure het glo oopgegaan sonder dat daar ’n hysbakhok teenwoordig was.
Pavan is met ernstige beserings aan sy skouer en rug na ’n plaaslike hospitaal gehaas.
Die veldtog meld dat die 36-jarige gholfspeler ernstige skade aan sy skouer opgedoen het, asook frakture aan verskeie werwels. Hy het reeds minstens een groot operasie ondergaan en sal voortgesette mediese sorg en verdere prosedures benodig.
Dokters verwag dat hy vir baie weke in Suid-Afrika sal moet bly voordat hy veilig geëvalueer kan word vir terugreis na die Verenigde State.
Die ongeluk het ‘n dag voor die aanvang van die Investec Suid‑Afrikaanse Ope Kampioenskap plaasgevind, waaraan Pavan sou deelneem.
Sy vrou, Audra, is op pad na Suid-Afrika om by hom te wees, terwyl sy suster ook van oorsee af reis. Verskeie mede-spelers en vriende het hom reeds in die hospitaal besoek en beskryf hom as positief en moedvol ten spyte van die omstandighede.

Die GoFundMe-veldtog is van stapel gestuur om die gesin te ondersteun te midde van wat beskryf word as “onverwagte en beduidende finansiële druk”.
Internasionale mediese sorg, verlengde hospitalisasie en ’n lang hersteltydperk sal na verwagting hoë kostes meebring.
Fondse sal aangewend word vir mediese uitgawes, ’n verlengde verblyf in Suid-Afrika, vervoer terug na die Dallas-omgewing in die VSA en voortgesette mediese sorg. Daar word ook melding gemaak van die onsekerheid oor Pavan se professionele gholftoekoms.
LEES OOK: Historic sellout as SA Open welcomes stars to Stellenbosch
Pavan, ’n voormalige student van die Texas A&M-universiteit en deel van die sogenaamde “12th Man”-tradisie, is volgens die veldtog ’n gewaardeerde lid van die wêreldwye gholfgemeenskap.
In ’n bywerking wat gister by die veldtog gevoeg is, word bevestig dat Pavan vir minstens ses weke in Suid-Afrika sal moet bly.
“Met drie jong kinders is dit moeilike nuus vir ’n ma wat by haar man én by haar kinders wil wees,” lui die plasing. Die plan is dat die kinders in ’n stadium ook na Suid-Afrika sal reis om by hul ouers te wees.
Die jongste bywerking wys ook op verskeie finansiële onsekerhede, insluitend internasionale mediese rekeninge, die vraag of versekering alles sal dek of terugbetaal, wat sy mediese polis sal toelaat en of hy weer professioneel sal kan speel. In hierdie stadium is daar nog geen duidelike antwoorde nie.
Hoewel ’n aanvanklike teiken van $100 000 (R1,59 miljoen) gestel is, dui die veldtog aan dat die bedrag verhoog kan word indien die finansiële behoeftes groter blyk te wees. Sover is ongeveer $55,663 (R886 600) ingesamel.
In ‘n verklaring wat aan DP World Tour se X‑bladsy (voorheen Twitter) vrygestel is, bedank Pavan almal vir hul vriendelike woorde en goeie wense. Hy beskryf die dae sedert die ongeluk as moeilik, maar verseker almal hy is in goeie gees.
“Ek het baie rehabilitasie en harde werk voor my, maar die sorg wat ek tot dusver van Mediclinic ontvang het, is uitstekend,” lui die verklaring.
Intussen gaan die Suid‑Afrikaanse Ope voort by Stellenbosch‑gholfklub. Ten tyde van publikasie was rondte drie aan die gang met Pavan se landgenoot Francesco Laporta in die eerste plek op 10 onder par. Die hoogs aangeskrevene Suid‑Afrikaner Dean Burmester is in die derde plek op agt onder par.






You must be logged in to post a comment.