Noordkaap Bulletin

POTPOURRI | Hard, sag, suur, taai – watter soort lekkergoedmens is jy?

assorted candies and coffee beans in close up view
Watter soort lekkergoedmens is jy? Foto: Magda Ehlers / pexels.com

Mense word soms met diere vergelyk. So kry jy buffels of trapsuutjies. Mense kan ook met vrugte vergelyk word. Jy kry jou harde koejawels of suur pruime. Ek voel dat die mensdom ook met lekkergoed vergelyk kan word.

Jy kry jou malvalekker-mense. Sag van binne en buite. Jou jellie-lekkergoed-mense en Paaseier-mense val ook in hierdie kategorie. Hulle is die soort lekker wat jy met ekstra versigtigheid hanteer. Stel jy hulle te lank aan negatiewe elemente bloot, raak hul binnekante uiteindelik ook hard. Amper oneetbaar.

Dan kry jy jou nikkerbal- en gekookte lekkers-mense. So hard van binne soos van buite. Onwrikbaar. Hulle verrig die onmoontlike in moeilike tye. Ons kry ook die lekkergoed wat hard aan die buitekant, maar sag aan die binnekant is. Die geheim is om nie op hierdie mense op te gee nie. As jy eers deur die klipharde buitelaag breek, is daar ‘n snoesigheid binne.

Jy kry ook die teenoorgestelde – die sagte sjokoladelaag buite en ‘n harde neut aan die binnekant. Op die oog af sag, maar jy vind vinnig uit dat dit is waar die sagtheid ophou.

Natuurlik is daar ook jou sjokolade-mense. Diegene wie jy opsoek wanneer jy troos nodig het. Dan is daar die legio ander lekkergoed-mense. Die toffies en die suigstokkies. Kougom en sherbet. Die suurwurms en die sout-drop.

Soos alles in die lewe moet ons versigtig wees om nie ‘n lekkergoed bloot op sy verpakking te beoordeel nie. Soms is dit die aangenaamste lekker wat uit die onopvallendste verpakking te voorskyn kom. Soms is daar die teleurstelling van ‘n ongelooflike verpakking met ‘n nie so smaaklike lekker daar binne nie.

Almal van ons is uniek. Ons verskille maak die lewe interessant en ons vul mekaar aan, al voel dit nie altyd so nie.

Watter soort lekkergoed-mens is jy?

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article