Drie maande nadat die 16-jarige Matt Botha skielik uit die lewe geruk is, vra die polisie die hulp van die publiek oor die botsing wat die tienerseun se lewe geëis het.
Matt is enkele dae voor Kersfees – op 19 Desember 2025 – in Jan van Riebeeck-rylaan in die Paarl doodgery nadat ‘n voertuig hom omgery het toe hy op sy fiets gery het. Matt was ten tyde van sy dood ‘n leerder aan Bergrivier Sekondêr in Wellington.
Sers. Wesley Twigg, ‘n provinsiale woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het destyds aan Paarl Post bevestig dié
voorval het omstreeks 20:30 in Jan van Riebeeck-rylaan gebeur. Twigg het ook toe bevestig dat ‘n 46-jarige man in hegtenis geneem is en van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol aangekla is.
Kapt. Frederick van Wyk, ‘n woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, het vandeesweek gesê die publiek se hulp word in die ondersoek benodig.
“Die Paarl-Oos-polisie versoek die hulp van die publiek vir inligting oor ‘n ongeluk wat op Vrydag 19 Desember 2025 in Jan Van Riebeeckweg gebeur het. ‘n Man was op sy swart Giant-fiets besig om die pad (in Jan Van Riebeeckweg) oor te steek toe hy deur ‘n pers Nissan Sentra getref is. Hy is op die toneel van die ongeluk aan die beserings wat hy opgedoen het, dood. Enigiemand met inligting oor hierdie noodlottige ongeluk word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte, speursersant CC Pretorius, by 021 877 5900/39 te bel.”
Paarl Post het kort ná hierdie korrespondensie by Van Wyk navraag gedoen oor wat van die 46-jarige man wat aanvanklik in hegtenis geneem en aangekla is, geword het. Hy het die navraag na kol. Liticia Hans, die Paarl-Oos-polisie se stasiebevelvoerder, en lt.kol. Johannes Koerkop, die Paarl-Oos-polisie se speurhoof, verwys. Hans en Koerkop het teen druktyd nog geen terugvoer verskaf nie.
Paarl Post het intussen ook na Matt se ma, Ronia Bhana, uitgereik.
Dié hartgebroke ma vertel dit maak haar baie hartseer dat die man wat weens Matt se dood aangekla is, borgtog gekry het.
“Om te dink hy kry R1 000 borgtog en kan vrylik rondloop terwyl my kind en sy drome net so weggeruk is.
“Op die oomblik is die ondersoek nog onvolledig, want die mense wat die ongeluk gesien gebeur het, is te bang om te praat. Hulle is bang vir die hof. Ek gaan maar nou self een vir een na die getuies en hoop dat iemand bereid sal wees om te getuig.”





