KAAPSTAD – Die Bishop Lavis-polisie het die publiek se hulp ingeroep om een van drie vermeende sakerowers te identifiseer.
Die drie het op 16 Maart 2024 omstreeks 06:30 by die perseel van Xone-sekerheidsdienste in die lughawe-nywerheidsgebied ingebreek, waar hulle die veiligheidswagte met vuurwapens gedreig en daarop aangedring het dat hulle hul vuurwapens oorhanding. “Die verdagtes het met een vuurwapen, wat hulle by een van die wagte afgeneem het ,en ‘n gaspistool gevlug,” sê sers. Samantha Adonis, ‘n polisiewoordvoerder.
Volgens Adonis het kringtelevisie een duidelike beeld van een van die verdagtes, wat nie gemasker was nie, gewys. “Die verdagtes kan dalk van die onmiddellike omgewing wees, dus vra die polisie die gemeenskap se hulp om hulle op te spoor,” sê Adonis.





