Perlemoen ter waarde van meer as R3 miljoen is laat Maandagmiddag ( 22 September) in ‘n vragmotor op die N1 buite Rawsonville gevind.
Die Breederiver-K9-eenheid en die eenheid vir seevisserye van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het op inligting reageer. Die vragmotor is by die weegbrug op die N1 buite Rawsonville voorgekeer en deurgesoek. Verskeie sakke perlemoen – altesaam 13 341 stukke – met ‘n geskatte waarde van R3,3 miljoen is gevind, het sers. Wesley Twigg, ‘n provinsiale woordvoerder, gesê.
‘n Man en vrou is in hegtenis geneem weens die besit van perlemoen. Hulle sal eersdaags in die hof in Worcester verskyn.

* Skaars ‘n maand tevore het die polisie ook ‘n vragmotor ‘n entjie verder op die N1-snelweg naby Worcester voorgekeer en op 2 271 eenhede perlemoen afgekom.
Suid-Afrikaanse perlemoen (Haliotis midae) kom slegs hier voor en is die grootste van die spesie. Dié seeslak het ‘n hoë markwaarde en ‘n bedryf van onwettige oes en smokkel het ontstaan, volgens die Suid-Afrikaanse webwerf Corruption Watch.
Die vermoede is dat perlemoensmokkelary hand-aan-hand gaan met die handel in dwelms en ander natuurlewe-produkte soos renosterhoring, met dwelms wat dikwels in ruiltransaksies gebruik word.
Volgens die Wildlife Justice Commission is 90% van die perlemoen wat gestroop word, vir die mark in Hong Kong bestem. Chinese misdaadnetwerke is blykbaar by die perlemoenstropery betrokke. Plaaslike bendes word ook betrek. Nadat die perlemoen gedroog is, word dit glo in vragmotors versteek en oor die grens na Suid-Afrika se buurlande vervoer, vanwaar dit na Asië versprei word.
LEES OOK: Worcester-polisie maak perlemoenvonds ter waarde van meer as R 2 miljoen






You must be logged in to post a comment.