KAAPSTAD – Twee buitelandse burgers is in hegtenis geneem nadat die polisie meer as 3 ton tik, mandrax-tablette en dagga in ‘n vragmotor op die N1 naby Beaufort-Wes ontdek het.
Die dwelmvonds is Vrydagoggend 27 Februarie by ‘n voertuig-kontrolepunt wat by ‘n weegbrug op die N1-snelweg naby Beaufort-Wes opgestel is, gemaak.
Beamptes van Sentraal-Karoo se blitspatrollie en honde-eenhede het om 10:40 ‘n vragmotor met ‘n Gauteng-registrasienommer wat op pad was na Kaapstad deursoek. In die vragmotor se sleepwa is 3,362 ton tik, 22 000 mandrax-tablette en 131,5 kg hoëgraadse dagga gevind. Die beraamde straatwaarde van die hele besending is R3 328 700.
Hofverskyning Maandag
Die vragmotorbestuurder en sy passasier, albei buitelandse burgers en onderskeidelik 38- en 41-jaar-oud is in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel.
Albei verdagtes moet Maandag 2 Maart in die landdroshof in Beaufort-Wes verskyn.
Lt.gen. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir die beduidende beslaglegging.








