DURBANVILLE – Die konyne in die Durbanville-begraafplaas is nie die probleem nie, maar die mense wat hulle daar gaan loslaat, sê ‘n woordvoerder van die groep weldoeners wat die konyne in die begraafplaas versorg.
Hulle het nou agt plakkate laat maak om mense daarvan bewus te maak dat die loslating van konyne nie net onwettig is nie, maar ook baie wreed.
Die plakkate sal op strategiese plekke – onder meer by die ingang van die begraafplaas, asook by skole – opgesit word sodra toestemming van die Stad Kaapstad se rekreasie- en parkedepartement en ander instansies ontvang is.
LEES OOK: Konyne in Durbanville-begraafplaas kom onder loep by Subraadvergadering

Plaas foto’s vir aanneming
“Dit is mense se voormalige troeteldiere. Hulle word deur voertuie raakgery, deur honde, katte en roofvoëls gevang en selfs deur mense geëet. Hulle raak ook siek en gaan dood. Die diere ly as dit uitermate warm of koud is, en benodig water, kos en skuiling.
“Konyne beskerm hul gebied en val ander konyne aan en beseer hulle, as hulle nie reg aan mekaar blootgestel word nie,” sê sy.
Die plakkate beveel mense aan om, as hulle van hul troetelkonyne ontslae wil raak, hulle foto’s van hul konyne kan plaas vir aanneming op die Facebook-blaaie van organisasies soos Bunny Huggers South Africa, Bunnies South Africa of Durbanville Bunny Rescue.
As ‘n laaste uitweg, kan mense ‘n dierewelsynsorganisasie kontak. In noodgevalle kan mense die Happy Hoppers Bun Club kontak by happyhoppers.bunclub@gmail.com of by 067 409 9900 (slegs Whatsapp).


‘Beskadig nie grafte’
Die konyne kom voor by die begraafplaas, asook omliggende areas soos die skoolterrein van die Laerskool Durbanville, die Durbanville-polisiekantoor en kerkterrein van die NG kerk Durbanville in Weyerslaan.
Die kwessie het onder die loep gekom by die vergadering van Subraad 7 van die Stad Kaapstad.
Daar is beweer dat die konyne se tonnels grafte beskadig het. Sommige grafte in die begraafplaas, wat erfenisstatus geniet, dateer terug na 1908.
Volgens die woordvoerder van die groep weldoeners wat die konyne in die begraafplaas versorg, is dit snert dat die konyne se tonnels die grafte beskadig.
“Dit word veroorsaak deur die grondtipe in die begraafplaas. Weens die kleigrond is die grond onder grafte swak gekompakteer en sak sommige grafte in,” het sy gesê.
Die Stad se rekreasie- en parkedepartement het dit in sy kommentaar aan TygerBurger bevestig en gesê die skade aan grafte word deur natuurlike grondbeweging veroorsaak, wat deur die konyne vererger kan word.






You must be logged in to post a comment.