Paarl Post

Plaaslike klubrugbyspeler in Wellington-hof ná beweerde verkragting

SAPS
‘n Verkragtingsaak teen ‘n bekende klubrugbyspeler is by die Wellington-polisie aanhangig gemaak. Foto: Argief/ Jana Scheepers

WELLINGTON – ’n Bekende en talentvolle plaaslike klubrugbyspeler, verbonde aan ’n prominente Boland-rugbyklub, sal Maandag (4 Mei) in die Wellington-landdroshof verskyn op aanklag van verkragting, waar hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Volgens inligting tot die koerant se beskikking, het die beweerde verkragting die afgelope naweek plaasgevind. Die omstandighede rondom die voorval is nog vaag, maar betrek glo die rugbyspeler en ’n student, terwyl ‘n vriend van die speler ook aangekla word.

Sers. Wesley Twigg, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het bevestig dat die 23-jarige rugbyspeler en ’n 28-jarige man, wat na bewering ’n vriend van hom is, op 28 April vir die eerste keer in die hof verskyn het.

Logan Maistry, woordvoerder vir die Departement van Korrektiewe Dienste, het bevestig dat die rugbyspeler tans in die Allandale-gevangenis aangehou word.

Wellington hof
Die landdroshof in Jan van Riebeebeckstraat in Wellington. FOTO: Jana Scheepers

Paarl Post het ook navraag gedoen by die klub waarvoor die 23-jarige speler die afgelope naweek op Wellington se sportgronde sou uitdraf.

Die klub se voorsitter het aangedui dat die klub geen kommentaar wil lewer nie en het die koerant na die beskuldigde se regsverteenwoordiger verwys.

LEES OOK: Twee van Drakenstein in hof oor seksuele misdrywe met kinders

Die speler sou na verwagting op Saterdag sy laaste wedstryd vir die betrokke span speel voordat hy na ‘n ander klub sou skuif.

*Die name van beide beskuldigdes word voorlopig weerhou totdat hulle in die hof gepleit het.

*Die berig is aangepas na gelang van nuwe inligting wat aan die lig gekom het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article