Worcester Standard & Breederivier Gazette

Plaaslike aktiviste krap vermeende bedrog met Sassa-toelae oop

Die aktivis Jamaine Geduld en raadslid Hubert Titus was deel van die span wat alarm gemaak het nadat hulle ongerymdhede met die SRD-toelae ontdek het.

‘n Katnes van bedrog is oopgekrap nadat aktiviste wat inwoners help om vir Sassa-toelae te registreer, besef het dat honderde jongmense onwetend reeds vir die maatskaplike noodleningstoelae, ofte- wel SRD-toelae, geregistreer is maar nooit ‘n sent ontvang het nie.

Raadslede en aktiviste van die politieke party Good het besef iets skort toe hulle die soveelste persoon wou help, maar Sassa se stelsel aangedui het dat hulle reeds geregistreer is. Die selfoonnommers wat gebruik is, behoort egter nie aan hulle nie.

Die raadslid Hubert Titus het gesê hulle het dadelik begin om die saak te ondersoek.

“Dit het veral gebeur met jong-mense wat pas 18 geword het en die kindertoelaag ontvang. Dit wil voorkom asof iemand toegang het tot hul inligting en dit gebruik om te registreer vir die SRD-toelae,” sê Titus.

Good het die kwessie aan die Valke en Sassa gerapporteer, tesame met beëdigde verkla­rings van 34 slagoffers en ‘n lys van nog 300 jongmense met wie dieselfde gebeur het.

“Wie weet wat die omvang van hierdie bedrog is? Hierdie is slegs jongmense wat ons in die Breedevallei-gebied teëgekom het toe ons mense in Worcester en Rawsonville gehelp het. Ons vermoed dat dit veel wyer strek,” sê Titus.

Hy het saam met die raadslede Ina Joseph en Andrew Hess en die aktivis Jamaine Geduld die saak ondersoek.

Die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling het in Februarie vergader om die kwesbaarheid van die SRD-toelaagstelsel te bespreek. Spesialiste in kubersekuriteit was bekommerd oor wydver- spreide klagtes van bedrog en omdat die stelsel kwesbaar vir kuberkrakers en identiteitsdiefstal is.

“Mense wat armoede nie ken nie kan dalk dink dat die toelaag van R370 nie baie is nie, maar vir werklose jongmense is dit baie werd. Hulle moet betaal om CV’s te laat opstel en uitdruk, taxigeld om dit na besighede te neem en om onderhoude by te woon. Hierdie bedrag gee hulle menswaardigheid totdat hulle werk vind. Dit gee hulle hoop om uit die siklus van armoede te kom,” sê Titus.

“In een so ‘n geval het ‘n jongman in Worcester sy toelaag gebruik om ‘n haarknipper te koop en ‘n klein besigheid vir ‘n inkomste te begin. Sonder die toelaag sou hy nie kon nie.”

Lt.kol. Siyabulela Vukubi, woordvoerder van die Valke, het bevestig die saak is by hulle aangemeld. “Ons moet eers seker maak of die saak onder ons mandaat val,” sê Vukubi.

Sassa het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article