Picanha-steak met cowboy-botter.
Picanha-steak met cowboy-botter. FOTO: 30 minute: die Suid-Afrikaanse Lugbraaierkookboek

Picanha-steak met cowboy-botter vinnig en maklik in lugbraaier


‘n Lugbraaier het ‘n absolute staatmaker geword in baie kombuise in Suid-Afrika. Dit bied ‘n maklike manier om vinnige, gesonde en heerlike kos voor te berei.

Louisa Holdst het nou haar derde lugbraaier-kookboek saamgestel, wat ywerige kokke help om lekker kos te maak en dit boonop – binne 30 minute.

Die 30 Minute: Suid-Afrikaanse Lugbraaier-kookboek neem die leser op ‘n toer van staatmakers soos wors, hoender, vis, maalvleis, steak, tjops, vrugte en groente – alles met ‘n eg Suid-Afrikaanse kinkel.

Hier is ‘n resep vir ‘n kruisskyfsnit. Met die vleis se laag vet bo-oor, is picanha altyd sappig en geurig.

Picanha-steak met cowboy-botter

Louisa Holst se kosboek 30 minute: die Suid-Afrikaanse Lugbraaierkookboek het resepte vir familiesaamkuier.

Genoeg vir 4

Bereidingstyd 20 minute

Gaarmaaktyd 30 minute

Lugbraaiertemperatuur 200°C

Jy benodig:

  • 1 x 900g-stuk picanha-steak, by kamertemperatuur
  • olyfolie, vir oorsprinkel
  • Texan-steakspesery-vryfmengsel of shisanyamaspeserye, na smaak
  • varsgemaalde swartpeper, na smaak
  • 500g bevrore krinkelsnit-aartappelskyfies
  • 4 gaargestoomde soetmielies aan die stronk, vir opdiening

Cowboy-botter

  • 125ml botter
  • 3 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 15ml dijonmosterd
  • 5ml gerasperde suurlemoenskil
  • 5ml gerookte paprika
  • 2ml gedroogde rissievlokkies
  • 15ml fyngekapte grasuie
  • 15ml pietersielie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Maak so

  • Voorverhit die lugbraaier tot 200°C. Gebruik ‘n skerp mes om in ‘n oorkruispatroon kepe in die vet aan die bokant van die vleis te sny. Besprinkel die vleis met olyfolie, die vleisspeserye en lekker baie peper.
  • Plaas die vleis, vetkant na bo, in die mandjie van die lugbaaier en rooster vir 10 minute.
  • Maak nou die cowboy-botter – smelt die botter in ‘n beker in die mikrogolfoond. Verwyder uit die oond en roer die knoffel by. Laat dit effens afkoel en roer dan die oorblywende bestanddele by. Geur met sout en peper.
  • Draai die steak om ná 10minute en rooster nog 5-10 minute, na gelang van hoe gaar jy dit verkies. Medium is 58°C op die vleistermomenter. Verwyder die steak uit die lugbraaier, bedek liggies met aluminiumfoelie en laat dit vir 10 minute rus.
  • Plaas die aartappelskytfies in die mandjie en rooster vir 12-15 minute tot bros. Roer halfpad deur die gaarmaaktyd.
  • Sny die steak en sit voor bedruip met cowboy-botter, die aartappelskyfies en mielies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article