Weslander

Pato 10: Sommige klagtes teruggetrek, nog ‘n maatskappy tot lys van beskuldigdes bygevoeg

Hofsake | In Court
Hofsake | In Court
Weslander

Pato 10: Sommige klagtes teruggetrek, nog ‘n maatskappy tot lys van beskuldigdes bygevoeg


VREDENBURG – Die staat het vandag (Vrydag 15 Mei) klagtes teruggetrek teen een van die beskuldigdes en ses maatskappye in die sogenaamde Pato 10-saak, terwyl die finale klagstaat in die R300 miljoen Paternoster-bedrogsaak aan die oorblywende nege beskuldigdes voorgelê is.

Die besluit om klagtes teen Johan Eigelaar (70) terug te trek, is geneem nadat die Hooggeregshof hom onder kuratorskap geplaas het.

Senior staatsaanklaer Jacques van Zyl het namens staatsadvokaat Thersia du Toit-Smit in die Vredenburg-streekshof verskyn en die staat se besluit op rekord geplaas. Du Toit-Smit kon nie by vandag se verhoor teenwoordig wees weens onvoorsiene omstandighede.

Van Zyl het gesê dat Albert Marais (69) en Petrus Marais (64) se eiendomsmaatskappy, Riodor 68, tot die lys van beskuldigdes gevoeg word, as Beskuldigde Nr. 20. Die beskuldigdes word deur advokaat Leon van der Merwe verteenwoordig.

Van die beskuldigdes vroeër in Hof A in die Vredenburg-landdroshof. Foto: Alida Buckle
Van die beskuldigdes vroeër in Hof A in die Vredenburg-landdroshof. FOTO: Alida Buckle Credit: Picasa

Klagtes teen Eigelaar teruggetrek

Die staat het besluit om die aanklagte teen Johan Eigelaar terug te trek aangesien hy deur die Hooggeregshof onder kuratorskap geplaas is. Daar is verduidelik dat ’n aansoek ingevolge Artikel 77–79 van die Strafproseswet waarskynlik nie ’n ander uitkoms sal hê as die Hooggeregshof se besluit nie, op grond van die mediese getuienis wat ontvang is.

Eigelaar was nie by vandag se verhoor teenwoordig nie aangesien die hof hom vroeër verskoon het.

Ses maatskappye se aanklagte ook teruggetrek

Na deeglike oorweging van die beskikbare getuienis en omvattende konsultasies het die staat ook besluit om aanklagte teen die volgende ses maatskappye terug te trek:

  • Paternoster Groepbelange Ltd (onder meer Pienaar en Marais)
  • Trans-Republikeinse Visserybeleggings (Pienaar en Lubbe)
  • Visprodusente en Uitvoerders (Pienaar en Minnie)
  • Marais Henricks (prokureursfirma van Kaapstad, Albert Marais)
  • Ingwerson Feenstra Marais (prokureursfirma van Wellington; Petrus Marais) 
  • PKF Kaapstad (‘n Durbanvillese ouditeursfirma; Lubbe en Louw)

Die ander beskuldigdes van Paternoster, Velddrif, Wellington en Kaapstad wat steeds aanklagte in die gesig staar, is Kobus Pienaar (69), André Eigelaar (75), Carel Mienie (54), Meiring Tarrant (55), Minette Louw (44), Bennie Lubbe (84) en Nico Latsky (77). Op die lys van maatskappye bly AJF Eigelaar en Seuns, Belhoewe (Albert Marais) en Oulap (Pienaar).

Die hoofingang van die Vredenvburg-hofgebou. Foto: Alida Buckle
Die hoofingang van die Vredenburg-hofgebou. FOTO: Alida Buckle

Die staat het vertoë ontvang namens Minette Louw en Albert Marais. Du Toit-Smit het gesê die vertoë word tans oorweeg en die regsverteenwoordigers sal voor die volgende hofdatum van die staat se besluit in kennis gestel word.

Verdere aanklagte op pad

Die staat het aangedui dat verdere aanklagte bygevoeg sal word sodra die ondersoek gefinaliseer is. ‘n Verdere maatskappy sal ook bygevoeg word sodra die ondersoek deur die Finansiële Sektor Gedragowersig (FSCA) afgehandel is.

Die staat het sedert die laaste hofverskyning konsultasies met getuies, die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure (IRBA) en die FSCA gevoer.

Die beskuldigdes wat moet reageer ingevolge Artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite (PRECCA) is ingelig dat hulle nou tot die einde van Julie 2026 het om te reageer, weens die verdere aanklagte. Die regsverteenwoordigers van die beskuldigdes is van voldoende besonderhede voorsien om ingevolge Artikel 34 van PRECCA te reageer.

Wat is die aanklagte?

Volgens die staat het die beskuldigdes tussen 2006 en 2019 aandeelpryse gemanipuleer, wat minderheidsaandeelhouers na bewering sowat R300 miljoen gekos het.

Die aanklagte sluit onder meer bedrog, oortredings van die Maatskappywet en die Wet op Finansiële Markte, regsverydeling en diefstal in. Sommige beskuldigdes word ook aangekla ingevolge die Wet op die Ouditprofessie.

Die staat het verlede jaar bykomende aanklagte van regsverydeling teen al die beskuldigdes bygevoeg. Daarby is drie voormalige nie-beherende direkteure van die sogenaamde EPM-blok (die Eigelaars, die Pienaars en die Marais-families) ook van diefstal aangekla weens beweerde onwettige reistoelae van sowat R184 000 per jaar oor ‘n tydperk van meer as ‘n dekade.

Die ondersoek het begin nadat ‘n fluitjieblaser beweerde ongerymdhede by PGB aangemeld en later klagte by die Valke (die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek) ingedien het.

Volgens die staat is minderheidsaandeelhouers mislei om hul aandele teen laer pryse te verkoop, terwyl die sogenaamde EPM-blok finansieel voordeel getrek het.

Die beskuldigdes het die eerste keer in Junie 2025 in die Vredenburg-streekhof verskyn. Drie beskuldigdes is later by die saak gevoeg nadat hulle aanvanklik nie beskikbaar was nie.

Borgtog en voorwaardes

Al die oorblywende beskuldigdes is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat onder streng voorwaardes. Hulle moes hul paspoorte inhandig en mag nie met staatsgetuies inmeng of hulle intimideer nie. Alle reisplanne moet vooraf aangemeld word.

Die hofsaak speel af teen die agtergrond van spanning in Paternoster, waar daar verlede jaar ook hofbevele en konflik tussen inwoners was ná ‘n omstrede rassistiese stemboodskap wat op WhatsApp versprei is. ‘n Forensiese verslag het later aangedui dat die persoon wat aanvanklik beskuldig is, nie die stemboodskap gemaak het nie. Dié hofgeding oor beskermingsbevele is ná bemiddeling met ’n skikkingsooreenkoms beëindig . Die ooreenkoms stel streng voorwaardes vir al die betrokke partye om voortgesette vreedsame samewerking in die gemeenskap te behou.

Saak uitgestel na September

Die saak is uitgestel na 18 September 2026 om die ondersoek te finaliseer en die finale klagstaat voor te lê. Die staat sal ook op daardie stadium aandui na watter forum die saak vir verhoor verwys sal word.

Soos nuwe verklarings en dokumente verkry word, sal die regsverteenwoordigers van die beskuldigdes daarvan voorsien word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article