Die twee Paarlse klubrugbyspelers het weer vandg (19 Junie) in die Wellington-landdroshof verskyn. Foto: Argief
Die twee klubrugbyspelers is op borgtog vrygelaat. Illustrasiefoto: Argief
Paarl Post

Paarlse klugbyspelers wat van verkragtig beskuldig word op borgtog vrygelaat


Die twee Paarlse klubrugbyspelers wat teregstaan op aanklagte van die verkragting van ‘n 21-jarige student, is vandag (22 Junie) op borgtog van R3 000 elk vrygelaat nadat die Wellington-landdroshof bevind het dat buitengewone omstandighede bestaan wat hul vrylating regverdig.

Die beslissing volg ná weke se regsargumente en verskeie uitstelle in die skedule 6-borgtogaansoek, waar die bewyslas op die beskuldigdes rus om die hof te oortuig dat uitsonderlike omstandighede hul borgtogvrylating regverdig.

‘n Skedule 6-borgtogaansoek behels ernstige misdrywe waarvoor borgtog slegs in uitsonderlike gevalle toegestaan word.

Dit sluit onder meer voorafbeplande moord, verkragting met verswarende omstandighede en gewapende roof in.

Landdros bevraagteken sterkte van staat se saak

Landdros Marti Wilson het in haar uitspraak aangedui dat die staat se saak nie op hierdie stadium so sterk voorkom as wat aangevoer word nie.

Die twee Paarlse klubrugbyspelers het weer vandg (19 Junie) in die Wellington-landdroshof verskyn. Foto: Argief
Die twee beskuldigdes is op borgtog van R3000 elk vrygelaat. Foto: Jana Scheepers/ Argief

Volgens Wilson het die staat geen getuienis voor die hof geplaas wat daarop dui dat die beskuldigdes die klaer of staatsgetuies sou probeer intimideer indien hulle op borgtog vrygelaat word nie.

Sy het die getuienis van beide die staat en die verdediging breedvoerig ontleed en na verskeie hofuitsprake verwys om haar bevinding te motiveer.

Wilson het onder meer opgemerk dat die staat die beskuldigdes van groepsverkragting beskuldig, wat gewoonlik met ‘n gewelddadige aanval geassosieer word.

Sy het egter daarop gewys dat die J88-verslag – ‘n mediese dokument wat gebruik word om beserings en ander forensiese bevindings in strafsake aan te teken – nie die soort beserings weerspieël wat met so ‘n gewelddadige aanval geassosieer sou word nie.

Volgens die ondersoekbeampte, kol. Winston Pegram van die Paarlse Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe (FCS), het die klaer beweer dat sy deur die twee beskuldigdes op haar bed vasgepen is terwyl hulle haar om die beurt verkrag het.

Wilson het egter daarop gewys dat die J88-verslag nie melding maak van beserings wat met dié weergawe van gebeure ooreenstem nie.

Borgtogvoorwaardes

Wilson het verskeie borgtogvoorwaardes opgelê, waaronder dat die beskuldigdes elke hofverskyning moet bywoon.

Indien die beskuldigdes versuim om dit te doen, kan dit daartoe lei dat hul borgtog aan die staat verbeur word en dat lasbriewe vir hul inhegtenisneming uitgereik word.

Die beskuldigdes mag ook op geen wyse kontak maak met die klaer of enige staatsgetuie nie.

Verder is hulle verbied om Wellington te besoek, behalwe wanneer hulle vir hofverrigtinge moet verskyn.

Die landdros het wel voorsiening gemaak vir noodgevalle.

Indien die beskuldigdes Wellington vir ander redes moet besoek, moet hulle vooraf skriftelike toestemming van die ondersoekbeampte verkry.

Tydens die verrigtinge het Elton Rochert van Elton Rochert Attorneys, wat die beskuldigdes verteenwoordig, aangedui dat die 23-jarige beskuldigde rugbyoefeninge in Wellington moet bywoon.

Wilson het daarop gewys dat die spesiale bepaling juis geskep is om sulke versoeke te akkommodeer, mits vooraf toestemming verkry word.

Aanklagte

Die twee beskuldigdes, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, staan gesamentlik tereg op vier aanklagte van verkragting van ‘n 21-jarige student van die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT).

Volgens die bewerings is die student in die vroeë oggendure van 27 April vier keer in haar kamer by ‘n studentehuis verkrag nadat die beskuldigdes haar glo ‘n saamrygeleentheid van ‘n nagklub in Newton, Wellington, na haar studentebehuising gegee het.

Beide beskuldigdes is ook op 27 April gearresteer.

Die 23-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n bekende rugbyklub in die Boland en sou na bewering op 3 Mei by ‘n nuwe rugbyklub in Limpopo aansluit.

LEES OOK: Wellington-hof sê Maandag oor klubrugbyspelers se borgtog

Die 28-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n rugbyklub in die Swartland-distrik.

Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weerhou weens die aard van die beskuldiging en sal eers bekend gemaak word sodra hulle pleit.

Die naam van die klaer word ook ingevolge dieselfde wet weerhou.

Die saak is uitgestel tot 5 Augustus vir verdere ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article