Foto ter illustrasie. Foto: Drakenstein Municipality/Facebook

Inwoners van wyk 22 in die Paarl, wat onder meer die gebiede New Orleans, Charleston Hill en Dal Josafat insluit, is ontevrede oor hul DA-wyksraadslid, Felix Cupido, wat volgens hulle “nie sy pligte nakom nie”.

Hulle beweer dat hul noodkrete op dowe ore val en wanneer hul aan die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se deur gaan aanklop om die raadslid se gedrag aan te meld of om probleme in hul wyk, insluitend, infrastruktuuruitdagings, aan te meld, draai die munisipaliteit sy rug op hulle.

Inwoners se besware teen Cupido sluit ook in dat hy versuim om die verpligte gemeenskapsvergaderings, wat kwartaalliks behoort plaas te vind, te hou. Volgens die inwoners is die laaste wyksvergadering in die eerste kwartaal vanjaar gehou en dit is glo ook nie behoorlik genotuleer nie.

‘n Inwoner het glo ‘n stemopname van die vergadering gemaak, wat tans die enigste bewys is van wat bespreek is asook van die besware wat aangeteken is.

Volgens die inwoners is die terugvoer oor die uitstaande punte wat op die vergadering bespreek is, ook nog nie deur Cupido hanteer nie, en wanneer hy daaroor uitgevra word, is sy terugvoer blykbaar dat hy “nog nie daarby uitgekom het nie”.

Koos le Roux, die Speaker van die munisipale raad, het op die afgelope Dinsdag (30 September) se raadsvergadering die belangrikheid van verpligte kwartaallikse wyksvergaderings beklemtoon.

Infrastruktuuruitdagings waarvan inwoners melding gemaak het, sluit in onder meer slaggate, toegegroeide sypaadjies, onwettige rommelstrooiery en vloedskade. Hierdie infrastruktuuruitdagings word glo by Cupido aangemeld, maar die raadslid meld dit glo nie by die DM aan nie en gee dus nie terugvoer aan inwoners nie.

Die inwoners sê hulle is ook veral ongelukkig omdat die misdaad in die gebied toeneem en is van mening indien die wyksraadslid meer in sy wyk betrokke is, sal hy moontlik ook ‘n verskil hieraan kan maak.

Een voorbeeld hiervan is dat New Orleans Primêre Skool glo gereeld onder vandalisme en inbrake gebuk gaan.

Die inwoners voer aan dat hulle nie meer op hul woongebied trots kan wees nie en wanneer hulle Cupido se hulp wil vra om die gebied te verbeter, wil hy hulle nie help nie.

Volgens Le Roux, die Speaker van die DM se raad, is Cupido reeds sedert 2016 die wyksraadslid vir wyk 22.

Le Roux het verduidelik dat Cupido se “verantwoordelikhede” tans in die Speaker se kantoor ondersoek word en dat geen kommentaar aan Paarl Post dus verskaf kan word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article