Plaaslike omgewingsbewustes is woedend nadat ‘n vleiland langs die R101, oftewel die Ou-Paarl-pad, skynbaar gesloop en die habibat van verskeie dierespesies soos die bloukraanvoël verwoes is om vir ‘n nuwe nywerheidsontwikkeling plek te maak.
Die aktiviste beweer die vleiland huisves ook ander bedreidge spesies.
Hulle het hul woede teenoor die Drakenstein-munisipaliteit en die provinsiale regering uitgespreek en die twee regerings daarvan beskuldig dat hulle in hul oorsig-mandaat gefaal het deur nie die sloping van die vleiland stop te sit nie.
Uitgrawings het in Desember verlede jaar begin. Nadat die plantegroei homself weer hervestig het, is in April vanjaar op dieselfde vlei-terrein gegrawe.
Volgens die omgewingsaktiviste is “angstige bloukraanvoëls” in Desember en April tydens die uitgrawings by die vleiland gewaar.
Volgens Seraj Johaar, die Drakenstein-munisipaliteit se direkteur vir korporatiewe en beplanningsdienste, het die betrokke nywerheidsontwikkeling voorheen as Pontac Park bekend gestaan.
“Die naam het verander na Fynbos Meander. Die ontwikkelingsvoorstel vir die terrein sluit in die ontwikkeling van 21 nywerheidserwe, die bou van ‘n interne pad, interne dienste en oop ruimtes. Die oop ruimtes sluit in die herbelyning van die Van Wyksrivier na sy oorspronklike loop, met buffers om rehabilitasie van die rivier en sy banke moontlik te maak en sodoende die ekologiese waarde van die rivier te verbeter, soos deur ‘n spesialis voorgestel,” het Johaar verduidelik.

Volgens Johaar het ‘n varswater-spesialis in sy oorspronklike studie aangedui dat die Van Wyksrivier se toestand verswak het weens die historiese opvulling op die terrein en die verandering van die rivierloop deur ‘n vorige grondeienaar omtrent 20 jaar gelede.
Hy verduidelik dat die onlangse uitgrawings dus verband hou met die aanbeveling in die varswaterstudie om die rivier te herstel en dit na sy oorspronlike loop te herbelyn.
Volgens Johaar is Guillaume Nel-omgewingspraktisyns, gebaseer in die Paarl, deur die ontkikkelaar aangestel om die proses vir omgewingsmagtiging asook al die wysigingsaansoeke wat gevolg het, te fasiliteer.
Omgewingsmagtiging vir die ontwikkeling is oorspronklik in 2016 deur die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning uitgereik.
Verskeie aansoeke vir die verlenging van die omgewingsmagtiging is sedertdien deur die provinsie ontvang en elke keer goedgekeur.
Volgens Johaar bly die aard van die ontwikkeling steeds vir ligte nywer- heids- of handelsdoeleindes.
Hy voeg by die oorhoofse ontwikkeling word deur ‘n omgewingsbestuurplan bestuur, wat streng voorwaardes vir die implementering van aktiwiteite voorskryf.






You must be logged in to post a comment.