Vier-en-twintig plaas- en gasvryheidswerkers van Diemersfontein-wynlandgoed in Wellington het hulle tot die Wes-Kaapse hooggeregshof gewend nadat hulle volgens hul prokureur, Milton Mackier, met die verlies van hul aandele in Thokozani Staff Holdings gedreig is.
Die 24 applikante hou saam 240 000 gewone nominale-waarde-aandele in Thokozani Staff Holdings (Edms.) Bpk. en het op 18 September ’n dringende aansoek gebring om die kansellasie van hul aandele te stuit.
Die saak is deur die eerste applikant, Abraham Pieter Julies, en 23 ander teen Denise Belinda Stubbs, Thokozani Staff Holdings en Sekretari (Edms.) Bpk. aanhangig gemaak. Dit is op 1 Oktober in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.
Volgens Mackier van Van Wyk Van Heerden Prokureurs het Stubbs en Thokozani die interdik toegegee. Die interdik verbied hulle om die betrokke aandele te verkoop of oor te plaas.
Die oorblywende kwessies is tot 23 Februarie 2027 uitgestel.
Mackier sê sy kliënte versoek dat koste teen Stubbs in haar persoonlike hoedanigheid toegestaan word, aangesien hulle nie wil hê die maatskappy moet met die koste belas word nie. Die hof moet nog hieroor besluit.
Aandele as beloning
Thokozani Staff Holdings is in 2003 gestig as ’n breëbasisbemagtigingsmeganisme om aandeelbelange te hou tot voordeel van mense wat by Diemersfontein werk.
Luidens die aandeelhouersooreenkoms kan aandele aan kwalifiserende werknemers uitgereik word as beloning en aansporing vir vorige en toekomstige diens. ’n Werknemer moet onder meer permanent in diens wees en langer as drie jaar aaneenlopend werk.
Die ooreenkoms bepaal ook dat ’n werknemer nie enige geldbedrag vir die uitreiking van die aandele hoef te betaal nie.
Volgens Julies se beëdigde verklaring is die aandele tussen 2015 en 2023 toegeken. Die applikante hou saam 240 000 aandele oor 24 sertifikate.
Hulle vra die hof om te bevestig dat hulle die wettige, geregistreerde houers van die aandele is, dat die aandele geldig uitgereik is en dat hulle geen bedrag hoef te betaal om dit te behou nie.
Betalingseis
Die geskil het in September verskerp toe die respondente se prokureur, Duncan Korabie, op 16 September ’n brief gestuur het waarin van die aandeelhouers geëis is om 57 sent per aandeel te betaal.
Dit sou R5 700 wees vir ’n aandeelhouer met 10 000 aandele. Indien die bedrag nie binne die bepaalde tyd betaal word nie, sou die aandele volgens die applikante gekanselleer en die regte daaraan aan Stubbs toegeken word.
Die applikante se prokureur het op 17 September ’n onderneming gevra dat Stubbs geen stappe ten opsigte van die aandele doen hangende die hofsaak nie. Volgens die hofstukke is dié onderneming geweier.
Die dringende aansoek is gevolglik op 18 September begin.
Stubbs se verweer
Stubbs, wat sedert 6 Augustus 2007 ’n direkteur van die maatskappy is en sedert Februarie 2023 die enigste direkteur, betwis die geldigheid van die applikante se aandele.
In haar teenverklaring voer sy onder meer aan dat die maatskappy se memorandum van inlywing die uitreiking van gewone aandele tot hoogstens 1 000 aandele van een klas beperk. Volgens haar is die beweerde uitreiking van 240 000 aandele aan die applikante daarom nietig.
Sy opper ook besware oor die dringendheid van die aansoek en voer aan dat die aandeelhouersooreenkoms mediasie en arbitrasie vereis voordat litigasie ingestel kan word. Sy wys verder na die Maatskappytribunaal as ’n moontlike forum vir die geskil.
Meer as 11 jaar aandeelhouers
Mackier sê sy kliënte is al langer as 11 jaar aandeelhouers, maar het volgens hul instruksies gedurende dié tyd geen dividende ontvang nie en eers vanjaar werklik begin om hul regte as aandeelhouers en die omvang daarvan te verstaan.
Die applikante het in Mei en Augustus versoeke gerig om toegang tot die maatskappy se register en konstitusionele dokumente.
Mackier sê daar is ook afsonderlike litigasie tussen die partye waarin bewerings oor die bestuur van die maatskappy se finansies en die aanwending van geld gemaak word. Dié bewerings is nog nie deur ’n hof bereg nie.
Thokozani Staff Holdings besit volgens Mackier 25,3% in Diemersfontein Wines.
Die hof moet nou verder beslis oor die geldigheid van die applikante se aandeelhouding en die ander aangevraagde bevele.





