‘n Vars haarsny is vir baie mans deel van hul persoonlike styl, maar volgens Wiehahn Esau, alombekend as Wieks, ‘n barbier en stilis van die Paarl, strek goeie versorging verder as net die regte snit.
Haartendense
Esau, wat al sowat ses jaar as barbier werk, sê lae fades en taper fades, veral saam met krulle, is tans van die gewildste style onder mans. Hy sê daar is ook ‘n toename in mans wat skêrwerk verkies, met moderne en deftige style wat al hoe meer gewild raak. Wanneer ‘n man onseker is oor watter styl om te kies, is dit volgens Esau belangrik om met die barbier te kommunikeer. “Ek kyk na goed soos haartipe, gesigvorm, leefstyl, daaglikse kleredrag en beroep,” sê hy.
Mans wat ‘n groot verandering in hul haarstyl oorweeg moet volgens Esau ook hul groeipatrone, gesigvorm en leefstyl in ag neem.
Versorging
Esau beveel mans aan om hul hare gereeld te was met ‘n sjampoe wat by hul haartipe en kopvel pas.
Hy sê mans behoort hul hare ongeveer twee keer per maand te laat sny om ‘n netjiese voorkoms te behou, hoewel sommige verkies om dit weekliks te doen.
Vir mans met baarde is ‘n gereelde was en die gebruik van baardseep en baardolie volgens hom belangrik.
” ‘n Baard kan ook baie kieme bevat,”
sê hy.
Mans wat self hul hare probeer sny moet volgens Esau ook versigtig wees.
Hy sê die verkeerde gebruik van masjiene, veral wanneer die lemme nie behoor- lik versorg word nie, kan tot probleme lei. Hy waarsku ook dat die verkeerde gebruik van ‘n skeermes tot snye kan lei.
Higiëne
Higiëne behoort volgens Esau ‘n belangrike oorweging te wees wanneer ‘n barbier gekies word, veral vir kinders wat vir die eerste keer ‘n barbier besoek.
“Maak seker die barbier se gereedskap is skoon,” sê hy.
Volgens hom beteken ‘n netjiese salon nie noodwendig dat die gereedskap skoon is nie. Mans behoort seker te maak dat die masjiene en kamme met ‘n geskikte ont-
smettingsmiddel skoongemaak word.
Hy waarsku ook daar is ‘n algemeen aansteeklike toestand in barbierwinkels. Ringwurm is ‘n aansteeklike infeksie wat veroorsaak word deur die swam tinea.
Esau, wat sy Signature-kursus by Wahl voltooi het en oor sy rooi seël beskik, sê mans behoort ook ‘n barbier met die nodige opleiding en ervaring te kies.
“Dit gaan nie oor die salon waar jy jou hare gaan sny nie. Dit gaan oor die higiëne van die gereedskap en of die barbier weet wat hy doen,” sê hy.





