Altesaam 30 nuwe “voetsoldate” help sedert Desember verlede jaar om die Wellington-polisie se werk ligter te maak – alles as deel van die Wes-Kaapse regering se Community in Blue-insiatief (CIB).
Die groep staan die polisie met sigbaarheid in gemeen- skappe by en bestaan uit inwoners van so ver as Hermon, wat ook onder die Wellington- polisiegebied val.
Die CIB-projek is ‘n inisiatief van die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveilig- heid en polisieoorsig en is daarop gemik om sigbare polisiëring, gemeenskapsbetrokkenheid en misdaadvoorkoming in die provinsie te verbeter.
Dit behels die ontplooing van opgeleide gemeenskapsveilig- heidsbeamptes en het ‘n sterk fokus op gemeenskapsverhoudinge, vertrouebou en samewerking tussen inwoners, die polisie en ander rolspelers.
Volgens Jarque Jacobs, die voorsitter van die Wellington-gemeenskapspolisiëringsforum, is die nuwe lede hoofsaaklik uit die buurtwagte van Wellington se verskeie sektore geïdentifiseer.
“Hierdie is mense waarmee die gemeenskappe vertroud is. Baie van hulle het al bande met die polisie gevorm. Dit het ook die keuringsproses maklik gemaak omdat hulle reeds in die stelsel is. Alle lede is onderworpe aan ‘n streng keuringsproses om seker te maak jy het ‘n skoon rekord,” verduidelik Jacobs.
Volgens Jacobs het die “voetsoldate” al verskeie optredes uitgevoer – ook in Hermon.
“Een van die onlangse suksesse was waar die lede inligting ontvang en opgevolg het oor drank wat onwettig in die Wellington-middedorp verkoop is. Die inligting is met die polisie gedeel en die polisie het op die perseel toegeslaan.
“Hierdie spreek tot die doel van hierdie projek. Hulle is nie daar om die polisie te vervang nie, maar om die polisie se werk makliker en ligter te maak.
“Ons sal graag op die kleiner, minder ernstige misdade wil fokus en die polisie op daai manier help om op die ernstige sake te fokus,” sê Jacobs.
Hy sê benewens die misdaadbekamping wat die CIB-lede weekliks doen, is daar ook ‘n sterk fokus op bewusmakings- projekte.
“Die lede is sover baie goed ontvang. Die gemeenskappe is dankbaar vir die ekstra polisiëring en sigbaarheid.”
Jacobs sê enigeen wat by die CIB wil aansluit, kan hul naaste polisiekantoor besoek vir nog inligting of met hom kontak maak.





