brand
‘n Historiese rietdakhuis op Roggelandplaas kon nie gered word nie. Foto: Verskaf

’n Wegholveldbrand het gister (17 Januarie) naby Roggelandpad in die Paarl uitgebreek waar ‘n historiese rietdakhuis op die Roggeland-plaas afgebrand het.

Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, stigter van die Drakenstein Farm Watch (DFW), het die plaaswag om ongeveer 14:30 ‘n noodoproep ontvang vanaf ‘n inwoner op die plaas oor ‘n veldbrand wat al hoe nader aan die plaashuise kruip.

Hy het verduidelik dat ‘n sekuriteitswag glo mense gesien het wat ‘n vuur maak op ‘n oop stuk veld naby die plaas. Hierdie inligting is blykbaar aan die Drakenstein-munisipaliteit (DM) oorhandig en ‘n saak van brandstigting sal binnekort volg.

Die DFW was daarna binne sewe minute op die toneel waarna hulle die infrastruktuur probeer red het, maar een huis – ‘n privaat woning – het in die slag gebly.

Weens vonke wat oor en weer gespat het en die geweldige hitte wat ervaar word tydens die rietdakhuis wat afbrand, was die DFW se hande afgekap en kon hulle nie die huis red nie.

Volgens Van Leeuwen Boomkamp kon die DFW twee ander rietdakhuise, een waarop die DFW ‘n dik laag spesiale skuim gespuit het wat in die vuurlyn was, red.

Hierdie dik laag skuim word op huise se rietdakke gespuit om te verhoed dat dit vinning vlam vat en was ook by die brand op die Laborie-wynlandgoed – ook in die Paarl – gebruik waar die bekende Cucina Di Giovanni-restaurant Desember verlede jaar afgebrand het.

brand
‘n Rietdakhuis op Roggelandplaas word met spesiale skuim gespuit om dit van die brand te beskerm. Foto: Verksaf

Historiese plase wat uit die sewentiende eeu in hierdie area in die Paarl dateer, loop reeds die afgelope paar jaar onder ernstige diefstal en op tye brandstigting deur.

Van Leeuwen Boomkamp het verduidelik dat die DFW in die afgelope agt jaar minstens vier brande in dieselfde area geblus het waar rietdakhuise afgebrand het.

Volgens Eda Barnard, die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se uitvoerende direkteur van veiligheid- en maatskaplike dienste is die DM om 14:14 ingelig oor ‘n “grasbrand”.

“Die brand het teen 14:28 na ’n grasdakstruktuur versprei en die gebou is vernietig. Geen ander strukture is geraak nie,” luidens Barnard.

Die DM se brandweerdienste was tot die volgende dag om 12:10 op die toneel.

Volgens Barnard het die inwoners op die plaas ‘n saak van brandstigting by die Mbekweni-polisiekantoor aanhangig gemaak.

“Verskeie veldbrande en een geboubrand het al voorheen op die betrokke perseel voorgekom,” het Barnard verduidelik.

LEES OOK: Brand vernietig historiese gebou in die Paarl

Van Leeuwen Boomkamp het verduidelik dat met die DFW se aankoms addisionele hulpbronne van die DM ook opgedaag het.

Die koerant het uitgereik na die DM, wie se kommentaar bygevoeg sal word sodra dit ontvang word.

Franschhoek-brand

Die brand wat gistermiddag in La Motte buite Franschhoek aangemeld is, woed steeds.

Volgens ’n verklaring deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) is goeie vordering intussen gemaak om dié brand te blus.

“Die brandlyn het teen die berg op gestrek vanaf La Motte tot by die Three Streams-gebied. Koeler aandtemperature het brandbestrydingaktiwiteite aansienlik gehelp; ‘n uitdagende dag word egter verwag aangesien hoë temperature voorspel word, wat brandgedrag kan vererger,” luidens ‘n verklaring deur die munisipaliteit.

“Vars brandbestrydingspanne sal vanoggend (18 Januarie) ontplooi word om brandbestrydingaktiwiteite voort te sit in gebiede waar die brandlyn toeganklik is.”

Alhoewel geen skade aan infrastruktuur aangemeld is nie, het ‘n onbekende hoeveelheid wingerd wel afgebrand.

Hiérdie brand in Franschhoek kom nadat ‘n vorige brand wat op 7 Januarie in Wemmershoek aangemeld is en ongeveer 17 000 ha verwoes het, eers onlangs onder bedwang gebring is.


Hierdie berig is gewysig ná aanvanklike publikasie om te verduidelik dat die koerant eers op 19 Januarie, en nie op 18 Januarie nie, met die DM in verbinding getree het. Die koerant vra om verskoning vir die kommunikasiefout.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article