Een persoon is beseer tydens die ongeluk in die Paarl op die hoek van Plein- en Hoofstraat Saterdag (20 September).
Een persoon is beseer tydens die ongeluk in die Paarl op die hoek van Plein- en Hoofstraat Saterdag (20 September).

‘n Wellingtonse vrou se lewe het Saterdagmiddag (20 September) onherroeplik verander nadat sy deur ‘n bakkie getref is.

Volgens kol. Hanelie Smith, woordvoerder vir die Wellington-polisie, het die insident omstreeks 16:40 in Blignautstraat plaasgevind.

“Volgens ooggetuies het twee bakkies in ‘n suidelike rigting in Blignautstraat gery. Een bakkie wou regs draai, waarna die tweede bakkie in [die ander voertuig] vasgery het. ‘n Volwasse vrou is ook in die proses omgery en ‘n geparkeerde kar is getref. Die bakkie het teen ‘n shack tot stilstand gekom.”

Die vrou het glo langs die pad gestaan toe sy deur die motor getref is.

Smith sê verder: “Die vrou is per ambulans na ongevalle by die Paarl-hospitaal vervoer. [Sy het] ernstige beserings [opgedoen].”

Volgens ‘n omstander, wat kort ná die ongeluk op die toneel was, hang die vrou se been so te sê aan ‘n “draadjie”.

“Haar been is basies af. Twee ambulanse, die rescue en die polisie was onmiddellik op die toneel,” sê die 67-jarige vrou, wat verkies om anoniem te bly.

Smith het bevestig dat die Wellington-polisie ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.

In ‘n afsonderlike voorval was daar vroeër dieselfde dag ‘n ongeluk op die hoek van Plein- en Hoofstraat in die Paarl. Kurt Maske, ‘n plaaslike paramedikus, was op die toneel.

“Daar was slegs een pasiënt met [geringe] beserings wat vanaf dié toneel na die hospitaal [vir verdere mediese behandeling] vervoer is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article