‘n Groep Wellingtonse inwoners sê dit het as ‘n groot skok gekom toe hulle op ‘n advertensie afkom wat wys dat ‘n geliefde park in Kristal Crescentstraat in Hillcrest in die mark is.
Dié inwoners was al die tyd onder die indruk dat dit munisipale grond is en eis nou antwoorde by die Drakenstein-munisipaliteit oor hoekom belastingbetalers se geld vir etlike jare gebruik is om die grond in stand te hou en selfs ‘n speelpark op te rig.
Die park is geleë in wyk 7 in Wellington, waarvan Ruth Arnolds die wyksraadslid is.
Die einste Arnolds moes verlede maand namens die munisipaliteit antwoorde op ‘n aanlyn buurtgroep gee toe die eiendom op Property24 geadverteer is en aangedui is dat ‘n veiling glo sou plaasvind.
Na aanleiding van boodskappe wat op die betrokke buurtgroep gestuur is, wou inwoners by Arnolds weet wanneer die munisipaliteit in kennis gestel is oor die transaksie en hoekom die naburige inwoners nie by openbare deelname betrek is nie.
Die munisipaliteit wou vandeesweek nie by navraag sê aan wie die eiendom behoort nie. Azrodeen McCarthy, ‘n inwoner, het egter aan die koerant onthul dat die grond glo aan die Ou Apostoliese kerk behoort, waarvan Arnolds na bewering ‘n lid is.
“Die kerk het blykbaar gesê die besluit om die eiendom te verkoop, is geneem omdat die grond nie groot genoeg is om ‘n kerkgebou op te rig nie.
“Ons grootste probleem is dat die gemeenskap nog altyd onder die indruk was dat dit munisipale grond is.
“Belastingbetalers se geld is gebruik om die eiendom in stand te hou deur die gras te sny en selfs ‘n speelpark op te rig,” het McCarthy verduidelik.
“Ons versoek dat die munisipaliteit verduidelik hoekom daar nie deursigtigheid met hierdie transaksie was nie.
“As inwoners moet ons darem ‘n sê het – veral as die grond vir iets ander hersoneer gaan word,” het McCarthy kapsie gemaak.
Volgens McCarthy dra die park sentimentele waarde in die gemeenskap.
“My ouers, grootouers en ek self het as kinders in hierdie parkie gespeel. Ons wil amper so ver gaan om te sê dat die munisipaliteit self die grond moet bekom om te verseker dat dit nie ontwikkel word nie.”
Die grond was die afgelope Dinsdag (16 September) steeds op Property24 as ‘n kommersiële eiendom teen R750 000 adverteer.
Die grootte van die grond wat adverteer word, is 1 818 m².
Faarieg Rhoda, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende direkteur vir gemeenskapsdienste, het by navraag gesê die munisipaliteit het geen jurisdiksie oor die eiendom nie.
“In ooreenstemming met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) kan ons nie die eienaar se besonderhede openbaar maak nie.
“ ’n Munisipale speelpark is naby geleë en word in stand gehou, soos alle ander parke reg oor die munisipaliteit.
“Aangesien die betrokke grond privaat besit word, is die munisipaliteit nie in ‘n posisie om kommentaar te lewer oor enige moontlike verkoop of transaksie wat die eiendom betref nie,” het Rhoda voorts gesê.
Rhoda het nie gereageer op vrae oor hoekom die munisipaliteit oor die jare instandhouding gedoen en ‘n speelpark opgerig het nie.
‘n Optog, wat hoofsaaklik deur kinders met plakkate bygewoon is, is op 27 Augustus gehou waartydens die jong spannetjie kapsie gemaak het teen die verkoop en ontwikkeling van die grond.
Hierdie artikel is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.


