Die uitblinkers van die 11de jaarlikse Shiraz SA-uitdaging is op Donderdag 17 Augustus in die Paarl deur Shiraz SA bekend gemaak, met veteraanwenners sowel as nuwelinge wat puik presteer het.

Finaliste en bekendes in die wynbedryf het vir dié glanstoekenningsgeleentheid byeengekom by Simonsvlei Wynkelder, die wyn-ikoon wat onlangs as handelsmerk en leefstylbestemming herrys het. Tracey Lange, die gewilde radio- en TV-persoonlikheid, was die seremonie­meester en die musikant Schalk Joubert het die gaste vermaak. Die hoof­borg was Vinventions, die internasionale verskaffer van sluitmiddels vir wynbottels en wat reeds jare lank by Shiraz SA betrok­ke is.

Shiraz-trofee vereer ‘Afrika se top-wynlandgoed’

Shiraz SA het Creation Wines aangewys as die wenner van die tweede jaarlikse Bernard Podlashuk Shiraz-trofee, wat ’n geldprys van R30 000, geborg deur Bellingham, insluit. Hierdie manjifieke trofee is genoem na die “Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz”, Bernard Podlashuk. Hy en sy vrou, Fredagh, het die plaas Bellingham in Franschhoek in 1943 gekoop en was baanbrekers wat Suid-Afrika se eerste enkelkultivar-shiraz in 1956 gebotteleer het.

Die trofee word toegeken vir “uitnemendheid, innovering, kreatiwiteit, volhoubaarheid en sosiale verantwoordelikheid” as kriteria. Drie finaliste is aangewys, met Creation Wines wat twee ander waardige aanspraakmakers, Ken Forrester Wines en De Grendel, uitgestof het.

Vanjaar se wenners: van shiraz tot versnit tot rosé:

Sestien wenners is in die Shiraz SA Challenge se drie kategorieë aangewys.

Die Top-12-Shiraz van 2023 is (in alfabetiese volgorde):. Anthonij Rupert Cape of Good Hope Riebeeksrivier Syrah 2018. Darling Cellars Gustus Shiraz 2021. De Grendel Op die Berg Syrah 2021 . Dewaldt Heyns Weathered Hands Shiraz 2020. Diemersdal Syrah 2022. Fairview The Beacon Shiraz 2020. Flagstone Dark Horse Shiraz 2019. Groenland Syrah Premium 2018 . Kleine Zalze Family Reserve Shiraz 2019. Stellenzicht Arenite Syrah 2019. Uva Mira The Mira Shiraz 2020. Wildeberg Red 2022

Die 2023 Shiraz-versnitwenners is:
. Babylonstoren Babel 2021 . Flagstone Velvet 2017. Quoin Rock Simonsberg Blend 2020

Die 2023 Shiraz Rosé-wenner is:
. Villion Rosa Rabbedoe Rosé 2023

Gehalte en variasie beïndruk beoordelaars

Die bekende keldermeester van De Grendel, Charles Hopkins, was die voorsitter van die beoordelaarspaneel.

Die span gesoute proeërs op die paneel saam met Hopkins was die Kaapse wynmeester dr. Andy Roediger van die Universiteit Stellenbosch, die Kaapse wynmeester Bennie Howard, ondervoorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging, Heidi Kritzinger van Kanonkop Wynlandgoed, Nongcebo Langa, wynmaker van Delheim Wines, en Shanice du Preez van De Grendel as protégée.

Volgens Hopkins het die gehalte en variasie van vanjaar se inskrywings uitgestaan.

“Ons het slim gebruik van eikehout en meer vruggedrewe geure ervaar. Die uniekheid van Shiraz van enkelwingerd-afkoms en die verskeidenheid van terroir was opmerklik.”

Soos gebruiklik is van die wyne wat nie gebruik is nie aan die Pebbles-projek geskenk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article