Die familie van ‘n 47-jarige vrou van Saron sukkel om tot verhaal te kom oor haar tragiese heengaan nadat sy die afgelope Sondag (24 Augustus) in ‘n vermeende tref-en-trap ongeluk dood is.
Andelene Vermeulen-Louw, haar matriekdogter en ‘n familielid se seuntjie was op pad huistoe toe die voorval omstreeks 19:15 naby Alheitstraat plaasgevind het.
Brandon van Niekerk, die bestuurder van ‘n Kia-trokkie, het volgens ooggetuies die ongelukstoneel verlaat en is later deur die polisie aangekeer en van strafbare manslag aangekla.
Hy is Dinsdag (26 Augustus) deur die Tulbagh-landdroshof op R2 000-borgtog vrygelaat.
Die saak is tot 10 November uitgestel.
“Sy, haar dogter en ‘n familie[lid se] seuntjie wat sy soos haar eie kind aanvaar het, was op pad huistoe hier van ons af.
“Sy was van agter af gestamp in die teenwoordigheid van die twee kinders. Hulle was erg getraumatiseerd,” het Christa Vermeulen, Vermeulen-Louw se grootmaak-moeder, telefonies aan Paarl Post vertel.
“Toe ek by die toneel aankom het haar dogter vir my gesê sy vermoed haar ma is dood die oomblik toe sy die grond getref het. Sy het geensins reageer toe haar dogter haar omdraai en probeer wakker maak nie,” het Vermeulen bygevoeg.

Volgens Vermeulen, het Lene – soos sy onder die familie bekend was – en haar dogter wat vanjaar matriek is Sondag by haar huis deurgebring.
“Ons het juis Sondag gepraat oor die dat haar dogter vanjaar skool voltooi. Sy was baie trots op haar kind en wou net die beste vir haar hê.
“In daai selfde gesprek het sy ook genoem hoe haar ma gesterf het toe sy graad 11 was,” het Vermeulen verhaal.
“Lien was ‘n liefdevolle mens. Sy het nooit met enigiemand vasgesit nie. Die hele Saron het haar so geken.
“Sy het altyd ‘n glimlag op haar gesig gehad en almal gegroet,” het Vermeulen verder gesê.

Volgens Vermeulen sou Lene se matriekdogter Donderdag (28 Augustus) berading ontvang.
Die familielid se seuntjie het reeds Dinsdag ‘n sielkundige gesien.
“Haar dogter word sekerlik die hardste getref deur hierdie gebeure. Sy was gister (Woensdag) so emosioneel dat [sy] vroeër [die] skool moes verlaat.
“Ek het vir haar gesê ons as ‘n familie is hier om haar te ondersteun. Dit gaan moeilik wees maar haar moeder sou wou hê dat sy sukses moet behaal,” sê Vermeulen.
Volgens haar het Lene ook ‘n 26-jarige seun.
Reëlings vir die roudiens sal glo eers getref word sodra ‘n familielid vanuit Londen hier aanland.
Die begrafnisdiens word voorlopig vir Saterdag 13 September beplan.
Paarl Post het uitgereik na die Saron-polisiekantoor oor die aanklagte teen Van Niekerk en bewerings dat hy die toneel verlaat het.
Die stasie se kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.






You must be logged in to post a comment.