Die Drakenstein-munisipaliteit sê indien alles volgens plan verloop, sal hy volgende maand met fase een van instandhoudingswerk begin om die verbrokkelende toestand van munisipale woonstelle aan te pak.
Die munisipaliteit het R5 miljoen in sy nuutste begroting vir die opknapping van huurwoonstelle toegestaan, wat onder meer die herstel van minstens 15 trappe, beskadigde dakke en die beveiliging van sommige buitedeure sal insluit.
Die veiligheid by die woonstelle is tydens die gure weerstoestande verlede jaar weer in die kollig geplaas.
Die munisipaliteit moes in Mei verlede jaar sowat R5,9 miljoen as noodfonds beskikbaar stel toe talle woonstelle se dakke weens stormsterk wind beskadig is.
Paarl Post het ook in Maart verlede jaar berig oor inwoners wat hul kommer uitgespreek het oor sigbare krake in die trappe se pilare.
Die munisipaliteit het toe al gesê dat hy in daardie stadium reeds besig was met ‘n raamwerk vir die instandhouding, wat die vervanging van asbesdakke sou insluit.

Volgens Louis Pienaar, die uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, sal die volgende gebiede in fase een van die instandhoudingswerk voorkeur geniet:
• Wetlike nakoming ten opsigte van asbes-regulasies, insluitend inspeksies, inventaris, risiko-bepaling, bestuursplanne en die toepassing van geteikende projekte;
• onveilige trappe;
• beskadigde dakke;
• teikentoestandbepalings en verwante werke; en
• daaglikse interne instandhouding en foutreaksie.
“Herstelwerk sal aan die 10 ergste beskadigde trappe asook vyf ander trappe gedoen word. Die 10 ergste beskadigde dakke sal ook herstel word.
“Verdere werk sluit die verf van een woonstelblok in, sowel as daaglikse instandhouding,” het Pienaar bygevoeg.
Volgens hom sal die munisipaliteit eers aandag gee aan defekte wat ‘n gevaar inhou en/of moontlike wetlike aanspreeklikheid meebring (dit wil sê trappe en asbes).
Daarna sal erg beskadigde dakke aandag kry en laastens die veiligheid van buitedeure en vensters.
Pienaar sê die werk sal uitgevoer word deur interne munisipale spanne sowel as aangestelde diensverskaffers.
Volgens Pienaar is herstelwerk aan trappe en die vervanging van asbesdakke reeds aan die gang.
Hy sê uitgekontrakteerde werk word oor verskeie kontrakteurs versprei en is op ingediende kosteberamings gegrond.
“Die munisipaliteit bly daartoe verbind om die huurwoonstelle gereeld in stand te hou om inwoners van veilige, funksionele en waardige leefomgewings te voorsien, terwyl wetlike en veiligheidsvereistes nagekom word,” het Pienaar aangevoer.






You must be logged in to post a comment.