Die oop stuk grond tussen Klein Drakenstein-weg en Mackierstraat in die Paarl is vir jare al ‘n brandpunt waar mense gereeld vullis onwettig stort.
Thys Serfontein, die Drakenstein-munisipaliteit se senior bestuurder vir vaste afval en stortingsterreinbestuur, sê die munisipaliteit het hierdie spesifieke oop stuk grond reeds as ‘n probleemgebied geïdentifiseer en maak gereeld daar skoon. Verlede week kon gesien word hoe munisipale werkers die afval op die oop stuk grond opruim.
“Die Drakenstein-munisipaliteit doen gereeld opruimingswerk op plekke en in gebiede waar mense rommel onwettig stort as deel van ons opruimingsprogram, wat ook die gebruik van vragmotors en laaigrawe behels.
By navraag het Paarl Post gevra of die plasing van vullishouers in die gebied sal help om die onwettige vullisstorting hok te slaan.
“Ons het voorheen ondervind dat mense vullis uit die vullishouers gooi, wat ons personeel dan moet optel,” sê Serfontein. “Die munisipaliteit sal egter weer ondersoek instel of ‘n 3m³-vullishouer daar geplaas kan word. Inwoners word vriendelik versoek om huishoudelike vullis slegs op die geskeduleerde vullisverwyderingsdag uit te plaas en nie huishoudelike of ander vullis onwettig te stort nie.”
Verder herinner Serfontein inwoners om te onthou dat onwettige vullisstorting ‘n oortreding is. Enigeen wat bewus is van onwettige vullisstorting kan in kantoorure 021 807 4751 of na ure 080 131 3553 tolvry skakel om dit aan te meld.





