Onwettige kragverbindings lei dalk tot Lanquedoc-vrou (27) se dood

Die toneel in Lanquedoc die afgelope Dinsdag (13 Januarie). Foto: Mike Charlie 1
Die toneel in Lanquedoc die afgelope Dinsdag (13 Januarie). Foto: Mike Charlie 1

Sowat twee weke nadat ’n hond weens beweerde onwettige kragverbindings in Lanquedoc naby Pniël doodgeskok is, moes die familie van Dilene Mert (27) die afgelope Dinsdag op ’n tragiese wyse van haar afskeid neem toe sy op dieselfde plek met lewendige kabels in aanraking gekom het.

Hoewel die Groot Drakenstein-polisie nog die omstandighede rondom haar dood ondersoek, het Mert se familie aan Paarl Post gesê die spesifieke gebied word deur plaaslike mense as ’n deurweg gebruik, maar het gevaarlik begin raak weens onwettige kragverbindings te midde van informele strukture wat in die gebied opgerig is.

Volgens kapt. Francois Ross, bevelvoerder by die Groot Drakenstein-polisiekantoor, is beamptes Dinsdagoggend omstreeks 10:00 na die toneel ontbied.

Ross het nie uitgebrei oor hoe sy dood is nie, maar sê Mert is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

“Die omstandighede word nog ondersoek. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen. Die 27-jarige vrou is geïdentifiseer en haar familie is ingelig,” sê Ross.

Dilene Mert (27)
Dilene Mert (27)

Mert se tante, Christalina Kana, by wie sy gewoon en grootgeword het, sê die familie sukkel steeds om sin te maak van die gebeure.

“Almal het verskillende weergawes; daar is so baie stories. Ons wil eintlik weer by die polisie uitkom, want ons weet self nog nie wat werklik gebeur het nie.

“Al wat ons weet, is dat daardie paadjie die laaste tyd uiters gevaarlik geraak het weens die onwettige kabels,” het Kana gesê.

Volgens Kana het Mert, wat in die gemeenskap as Lienkie bekend gestaan het, by hulle grootgeword.

“Sy was ’n baie liefdevolle mens. Soos die meeste van ons het sy ook maar haar ‘dinge’ gehad, maar sy het altyd rondom die huis gehelp.

“Hoewel sy nooit haar eie kinders gehad het nie, was sy baie lief vir kinders. Die hele Lanquedoc het haar as Lienkie geken.

“Haar dood tref ons almal en sy gaan beslis gemis word.”

Volgens Kana is baie mense in die gemeenskap bewus van die onwettige verbindings en voer aan dat daar nog nie daadwerklik deur owerhede opgetree is om dit te keer nie.

Navraag oor die beweerde onwettige kragverbindings is aan die Stellenbosch-munisipaliteit gestuur, wie se kommentaar later bygevoeg sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article