Ou Meulteater
Die Ou Meulteater in die Paarl. Foto: Argief

Die toekoms van die Ou Meulteater in die Paarl hang steeds in die weegskaal, terwyl die Drakenstein-munisipaliteit (DM) voortgaan met onderhoudswerk en die proses om ‘n nuwe huurder aan te stel. Ná die bedanking van die vorige bestuur en die opskorting van die huurkontrak, wag die plaaslike kunsgemeenskap in spanning om te sien hoe dié historiese kultuurruimte weer tot sy volle potensiaal ontwikkel sal word.

Volgens Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het die DM die vorige huurkontrak vir die Ou Meulteater beëindig en besluit om dit nie onmiddellik weer uit te verhuur nie, aangesien die teater aanvanklik deel sou vorm van die voorgestelde Blake Straat-ontwikkelingsprojek.

Die beplande ontwikkeling het egter intussen verander, en as eienaar van die gebou het die munisipaliteit gevolglik met die nodige instandhoudings- en opknappingswerk begin om die fasiliteit weer in ‘n geskikte toestand te bring, het Johaar verduidelik.

Sedert die vorige bestuurders van die Ou Meulteater in die Paarl, Lionel en Anél Maharajah, die tuig einde Januarie 2025 neergelê het nadat hulle as bestuurders bedank het weens skynbaar uitdagende “politiekery”, is die teater geslote.

LEES OOK: Ou Meulteater se verhuring bekyk

Johaar het bevestig dat die munisipaliteit, sodra die onderhoudswerk afgehandel is, ‘n nuwe huurkontrak met ‘n nuwe huurder sal aangaan. Die beoogde huurtermyn sal nege jaar en 11 maande wees.

André Terblanché, stigter van die Paarl Arts Hub, ‘n maatskappy sonder winsoogmerk wat daartoe verbind is om kreatiewe kunste in die Paarl en die breër Kaapse Wynlande te bevorder, is van mening dat die Ou Meulteater baie potensiaal inhou.

Volgens hom lê die DM se potensiaal in suksesvolle “vennootskappe” en sal die munisipaliteit, wat die gebou besit, daarby baat om ‘n kundige bestuurder aan te stel wat die kunste ken en verstaan en die spasie ten volle kan gebruik.

Terblanché het verduidelik dat die aangewese huurder verkieslik “strategiese vennootskappe” met verskeie rolspelers behoort te vestig ten einde die potensiaal van die ruimte optimaal te benut.

Dít kan in die vorm wees van kunsuitstallings, musiekvertonings, toneelstukke of dramaskole, maar moet “verwant wees” tot die teater.

Terblanché is ‘n Paarliet wie se familie vir ongeveer vier dekades die Musik-lood-musiekwinkel in die Paarl besit het.

Laurinda Hofmeyr, ‘n plaaslike musikant van die Paarl, het gesê dat die teater ‘n geliefde en waardeerde spasie in die Drakenstein-omgewing is en dat sy hoop ‘n huurkontrak word binnekort geadverteer en onderteken.

Ten spyte van die administratiewe veranderinge bly die Ou Meulteater intussen aktief in gebruik, het Johaar gesê. Twee drama-onderwysers bied weeklikse klasse by die teater aan, en ‘n verhoogproduksie is glo onlangs, op 14 Februarie vanjaar, daar aangebied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article