‘n Lugfoto van die nuwe Nieuwedrift-begraafplaas in die Paarl. Foto: Drakenstein-munisipaliteit

Die nuwe begraafplaas van die Drakenstein-munisipaliteit het uiteindelik geopen.

Faarieg Rhoda, Drakenstein se waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste, het bevestig dat die eerste begrafnisse by die Nieuwedrift-begraafplaas in die Paarl reeds die eerste naweek van Augustus plaasgevind het.

Die munisipaliteit was genoodsaak om hierdie begraafplaas te ontwikkel nadat die Klein Parys-begraafplaas sy volle kapasiteit bereik het.

“Fase 1 van die nuwe begraafplaas maak voorsiening vir 678 grafte. Die begraafplaas is geleë op die Boland Ondergeskikte

Pad (OP 5267), oorkant die Nieuwedrift-kliniek en die skool, Nieuwe Drift Primêr,” het Rhoda gesê.

Drakenstein het voorheen, by monde van David Delaney gesê ‘n verdere R2 miljoen is vir dié ontwikkeling vir die 2027-’28-boekjaar geoormerk. Delaney het destyds in die posisie as waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste gedien.

“Jaarlikse toewysings sal gemaak word namate die begraafplaas verder ontwikkel word. Wanneer dit voltooi is, sal die vermoë van die Nieuwedrift-begraafplaas na raming 13 800 grafte wees, tesame met toegangsbeheer en heinings, uitgebreide parkeergeriewe, kantoorruimte en ablusiegeriewe op die perseel, interne paaie en stormwaterinfrastruktuur,” het Delaney destyds gesê.

“Die uitbreiding van die Klein Parys-begraafplaas is weens die sensitiewe biodiversiteitstoestande in die omliggende gebiede nie moontlik nie. Nieuwedrift word dus juis ontwikkel om in toekomstige begrafnisbehoeftes te voorsien, terwyl omgewingsbewaring en begrotingsrealiteite in ag geneem word.”

Die munisipaliteit het verlede maand begin om die breë interne paaie van die Klein Parys-begraafplaas te vernou en die ruimte vir grafte te gebruik.

“Weens hierdie dringende behoefte aan en aanvraag vir grafruimte het die munisipali-

teit besluit om die breër paaie in die Klein Parys-begraafplaas te vernou en dié ekstra ruimte vir grafte te gebruik. Op dié manier kan voertuie steeds grafte in die begraafplaas bereik,” sê Rhoda.

Rhoda sê voorts inwoners wat navrae oor die begraafplase het, kan die munisipaliteit se begraafplaasbesprekingskantoor by Markstraat 1, Paarl, besoek of Lance Riffel by 021 807 6409 met navrae bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article