“Suid-Afrika word deur een van die hoogste syfers van chroniese niersiekte ter wêreld in die gesig gestaar – hoofsaaklik gedryf deur diabetes, hoë bloeddruk en MIV. Tog het ons land, ten spyte van die dringende behoefte, een van die laagste orgaanskenkingsyfers wêreldwyd – net 1,2 skenkers per miljoen van die bevolking.”

Só sê Stella de Kock te midde van nasionale nierbewustheidsweek, wat van 1 tot 5 September gedenk word. De Kock dien as besturende direkteur van die Transplant Education for Living Legacies-organisasie (Tell), wie se missie dit is om Suid-Afrikaners oor orgaan- en weefselskenking op te voed.

“Hierdie Nasionale Nierbewustheidsweek van 1 tot 5 September werp Transplant Education for Living Legacies lig op die kwesbaarste pasiënte van almal – kinders wat met chroniese niersiekte leef. Vir hierdie jong pasiënte kan orgaanskenking – hetsy dit nou van ‘n lewende skenker of ‘n oorlede skenker is – die verskil beteken tussen jare se indringende dialise en die kans om ‘n vol, gesonde lewe te lei.”

De Kock voeg verder by: “Wat baie mense nie besef nie, is dat jy tot 90% van jou nierfunksie kan verloor sonder om duidelike tekens of simptome te toon. Teen die tyd dat simptome verskyn, is nierskade dikwels ernstig en onomkeerbaar.”

Sakkie van der Westhuizen (58), wat voorheen in die Paarl gewoon het en tans in Piketberg boer, het in 2006 ‘n nieroorplanting ondergaan. Hy vertel hy het van jongs af baie nierinfeksies gehad. Dokters het vasgestel dat hy drie nierbuise het pleks van twee. Hy het gereeld infeksie in die derde buis, wat nie ‘n nier gehad het nie, opgedoen. Ten spyte hiervan het Sakkie nie eens aan die moontlikheid gedink dat sy niere hom sou pla wanneer hy ouer is nie.

“Ek het aan die begin van 2006 baie moeg begin raak. Dit het heeltemal toevallig gebeur dat ek toe aansoek gedoen het om ‘n polis – wat afgekeur is – en hulle het my laat weet ek moet die dokter gaan spreek, want hulle het probleme gesien. Hulle (die polismaatskappy) sê mos nie vir jou wat die probleme is nie.

“Ek is toe na ‘n dokter toe en hy het my dadelik na ‘n nierspesialis verwys, want hy het gesien ek het probleme. Toe ek daar kom, was ek al baie ver in nierversaking. In daardie stadium was die nierfunksie al van so ‘n aard dat hulle my onmiddellik op ‘n waglys vir ‘n nier geplaas het,” onthou Sakkie nog duidelik.

“Dit was toe al redelik ver gevorderd en onomkeerbaar. Die dokters kon in daardie stadium eintlik niks meer doen nie. My toestand het net erger geraak en hulle het my toe met dialise laat begin. Ek het peritoneale dialise ondergaan. Dit beteken jy kan dit self by die huis doen. Dokters plaas vir jou pypies in jou maag en dan het jy hierdie sakkies wat jy vervang. Ek het dit vier keer per dag gedoen.

“Toe het hulle my laat weet daar is ‘n geskikte nier vir my, maar op daai dag toe hulle my bel, was ek toevallig by die dokter weens bronchitis. Ek kon dus toe nie die nier ontvang nie, want ek was nie gesond genoeg daarvoor nie. Jy moet 100% gesond wees, anders kan jou liggaam die nier verwerp.

“Op 15 Desember 2006 was ek besig met dialise toe hulle my bel en sê ek moet deurkom, daar is ‘n nier vir my. Ek is toe na die Christiaan Barnard-hospitaal en die oorplanting is in die Kaap gedoen.”

Dit is vanjaar 19 jaar sedert die oorplanting en Sakkie is ontsettend dankbaar vir sy tweede kans op lewe. Hy sê dit gaan goed met hom en so ook met die gehalte van sy lewe.

“Ek gebruik die medikasie al vir baie jare, wat onder meer kortisoon insluit, wat op die lange duur nie juis goed is vir ‘n ou se liggaam nie. Dinge gaan mos maar stelselmatig so met die ouderdom agteruit. Al wat wel ‘n probleem is, is dat my spierfunksies nie so lekker is nie. Ek sal baie maklik byvoorbeeld ‘n spier skeur. My spiere verswak maar weens die lang tydperk wat ek die kortisoon gebruik.

“Die ander probleem is as gevolg van die verwerpingsmedikasie – jou liggaam se immuniteit word die heeltyd onderdruk. My liggaam het dus nie die natuurlike vermoë om teen ander siektes te veg nie – siektes soos kanker en sulke goed beteken dat ons, wat oorplantings ondergaan het, baie vatbaar daarvoor is.”

Kanker is in Oktober verlede jaar by Sakkie gediagnoseer. Dit was ‘n gewas in sy boudspier en dokters kon ongelukkig nie sny om dit te verwyder nie. Hulle moes ‘n ander roete volg na gesondheid en hy het chemoterapie en 28 sessies bestraling ondergaan.

“Sowat ‘n maand gelede was ek weer vir toetse in die tonnel en alles is skoon. Ek is baie dankbaar daarvoor, maar dit is mos maar iets wat die heeltyd half oor ‘n ou se kop hang. Ek bedoel, ek is bitter dankbaar – dit is amper 20 jaar van ‘n ou se lewe wat jy bygekry het. Ek is baie dankbaar die nierfunksie is al die pad baie goed – selfs deur die kankerbehandeling.”

Sakkie sê van toe af tot nou was nie ‘n maklike pad om te stap nie. Hy sê ten spyte van die berge wat hy moes versit, was hy nog altyd ‘n positiewe mens.

“Ek het probeer aangaan so goed ek kan, maar ek dink wat ‘n mens vergeet, is die invloerd wat dit op jou gesin het. Al wat ek vir mense om my kan sê, is enige orgaanskenking is ‘n ongelooflike geskenk.”

• Besoek www.tell.org.za vir nog inligting oor hoe om ‘n orgaanskenker te word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article