My F*k Marelize! se plakkaat. Foto: Silwerskermfees/ webtuiste

Die gewilde selfoonvideo wat in 2019 aanlyn verskyn en die land laat skater het, is vanjaar in ‘n rolprent omgeskep en word eersdaags op die grootskerm in die Paarl vertoon. Die film, My F*k, Marelize!, is van môre (29 Augustus) af landwyd in fliekteaters te sien, asook by Minimax in die Paarl.

Dit kom nadat Lyndon Jaftha, eienaar van Paarl FM, ‘n paar toutjies getrek het deur die regisseur en rolprentvervaardigers van My F*k, Marelize! te kontak wat ingestem het dat die fliek by dié teater vertoon moet word.

Die oorspronklike video wys ’n meisie wat met haar fiets reguit in ’n rugbypaal vasry, terwyl haar ma onvergeetlik uitroep: “My f*k, Marelize!” Die eenvoudige oomblik het onmiddellik ’n internet-sensasie geword, maar agter die humoristiese video skuil ’n intieme gesinsverhaal.

Die Namibiese Horn-gesin, wat die rolprent geïnspireer het, word in die film op ’n hartroerende en humoristiese wyse uitgebeeld.

Je-Ani Swiegelaar (as Heidi Theron) stoot vir Zandélle Meyer (as Marelize Theron) terwyl sy probeer fietsry. Foto: Silwerskermfees/ webtuiste

Die vertoning sal om 19:30 begin en kaartjies beloop R80. Fliekgangers gaan ook die geleentheid gebied word om twee van die akteurs, Zandélle Meyer, wat die rol van Marelize Horn vertolk, en Nichola Viviers as Wilmari Horn (Marelize se suster), te ontmoet vanaf 18:30. Die hele legendariese Horn-gesin wat al die pad van Namibië gekom het, gaan ook daar wees. Dit sluit in Marelize, Wilmari, Heidi en Tiaan (die twee susters se ouers).

Meyer het ook die toekenning ontvang vir “Beste vroulike byspeler in ’n speelfilm” vir haar rol in die fliek.

Indien daar fliekgangers is wat die opening van die film gaan misloop, is dit steeds tot 4 September by Minimax te sien.

Die regisseur van die rolprent, Zandré Coetzer, het in ‘n verklaring verduidelik dat die film daarop gemik is om die Horn-gesin soos hulle in die regte lewe is, uit te beeld.“Ons het elemente van vermaak ingesluit, maar altyd met die gesin se hart in gedagte. Die film moes soos ’n tuisvideo voel – eerlik en intiem. Selfs by die kankerorganisasie waar Heidi [Marelize se ma] werklik behandeling ontvang het, het ons geskiet om hul wêreld so getrou moontlik te weerspieël.”

Coetzer vertel verder dat hy en die draaiboekskrywer, Brett Michael Innes, lankal saam wou werk.

“Soos mense wat belowe hulle gaan saam braai! Ons het besef dit is nou of nooit. Ons het Namibië toe gegaan om die Horns te ontmoet. Tiaan, Marelize se pa, het ’n kroeg by sy huis gehad, en daar het ons stories gedeel. Ons het besef hierdie gesin is baie meer as net ’n snaakse video – hulle is hartlik, liefdevol en herkenbaar.”

Die film beklemtoon die universele temas van menslikheid en selfaanvaarding.

Coetzer sê: “Dit was die perfekte epic fail-oomblik, maar wat dit onvergeetlik gemaak het, was Heidi se rou, eerlike reaksie. Dit laat mense voel dis oukei om jouself te wees en jou foute te hê. By familie kan jy wees wie jy is – hulle rol hul oë, maar ondersteun jou onvoorwaardelik. Dit is die soort warmte wat ons met My F*k, Marelize! by kykers wou aanwakker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article