‘n Brand het Dinsdagmiddag by die HAM Kinder- en Jeugsorgsentrum uitgebreek. Foto: Verskaf

‘n Brand wat Dinsdagmiddag (17 Februarie) uitgebreek het by die Huis Andrew Murray (HAM) kinder- en jeugsorgsentrum in Wellington is vinnig gestuit voordat dit verder kon versprei.

Karen Petersen, HAM se bemarkings- en befondsingsbestuurder, het die brand bevestig wat omstreeks 16:30 uitgebreek het by Huis Berzelia, een van die geboue wat kinders huisves.

“Ons gesondheids- en veiligheidspan het onmiddellik gereageer en probeer om die brand te blus terwyl nooddienste gekontak is. Die brandweer het vinnig opgedaag en die brand suksesvol geblus. Ons is baie dankbaar om te berig dat geen kinders tydens die voorval beseer is nie.”

HAM word bestuur deur die organisasie sonder winsbejag, Badisa, en versorg en sien om na 155 kinders tussen die ouderdomme van 1 en 18 jaar elke dag.

“Hierdie kinders is wees gelaat of is op bevel van die hof in ons sorg geplaas en vertrou op ons om in hul geestelike, emosionele, fisiese, intellektuele, sosiale en sielkundige behoeftes te voorsien,” verduidelik Petersen.

Hoewel die brand in een van die kamers uitgebreek het, is die ontstaan van die brand nog onbekend en word dit tans ondersoek.

“Ons is trots om te deel dat ons gereelde brandoefeninge doeltreffend geblyk het. Die kinders het kalm en verantwoordelik gereageer en onmiddellik na die aangewese ontmoetingspunt gegaan soos opgelei.”

Petersen sê verder: “Ons betuig ons opregte waardering aan die nooddienste en personeel wat vinnig opgetree het om die veiligheid van almal op die perseel te verseker. Spesiale dank gaan aan raadslid Avron Appollis, wat onmiddellik gereageer het en die brandweer van Paarl en Wellington gekontak het, en gehelp het om die brand tot ‘n enkele kamer te beperk.”

Die omvang van die skade moet nog vasgestel word, meen Petersen.

Navrae is gerig aan die Drakenstein-munisipaliteit en sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article