Wynand de Villiers van die Paarl. Foto: De Villiers National Cycling/ webtuiste

Wynand de Villiers, die omstrede sakeman van die Paarl wat die promotor van die Ikoon-konsertreeks was, is weer in die nuus nadat dit aan die lig gekom het dat die Steve Hofmeyr-ikoon-konsert wat in Oktober in Kaapstad sou plaasvind, gekanselleer is.

Hofmeyr het dié aankondiging gister (3 September) op sy Facebook-blad gemaak.

Paarl Post het Maandag in ‘n aanlyn artikel berig die konsert sou voortgaan, asook in vandag se gedrukte koerant, maar dit is nie meer die geval nie.

“Tot 48 uur gelede was [die Steve Hofmeyr-ikoon-konsert] ‘n bevestigde konsert, maar daar is daarteen besluit. Te veel het verander, te veel vrae, te veel besware en onsekerhede en net te min waarborge. Niemand was moeilik nie, almal het begrip, maar dit is teleurstellend,” het Hofmeyr geskryf.

Op die Facebook-blad genaamd “Steve Hofmeyr Ikoon Konsert,” wat intussen verwyder is, het De Villiers die skuld vir hierdie jongste ikoon-konsertfiasko geplaas op, wat hy beskryf het as “gevestigde magstrukture in die bedryf wat doelbewus werk om enige inisiatief wat hulle nie beheer nie, te diskrediteer”.

Hy het verder aangevoer dat sommige kunstenaars “oordadige optredegeld eis sonder enige oorweging vir begrotings”, en dat “tegniese lêers en produksiebates onwettig teruggehou [is] om afhanklikheid te skep”. Volgens hom is daar ook van “laasteminuut-ultimatums” gebruik gemaak om “produksies in hul kwesbaarste oomblikke uit te buit”. Die media, sê hy, “verseker dat slegs gekose stemme gehoor word” en beskerm daarmee “die belange van ’n elite”.

De Villiers beklemtoon dat die kansellasie ’n noodsaaklike stap was: “Die prys wat ons moes betaal, is eenvoudig te hoog. Daar is ’n punt waar ’n mens se menswees belangriker word as ’n konsert, en ek en my gesin het daardie punt bereik. My naam, my eer en my integriteit is vir my belangriker as enigiets anders.”

‘n Advertensie van die gekanselleerde Ikoon-konsert wat op 26 Oktober in Kaapstad sou plaasvind. Foto: Facebook

Hy sê kommunikasie oor terugbetalings “sal volg”. Hofmeyr sê in sy verklaring dat hy vroeër vanjaar drie ikoon-vertonings in Pretoria aangebied het wat saam sowat 18 000 mense gelok het en dat die gekanselleerde ikoon-konsert op 26 Oktober in die DHL-stadion ongeveer 5 000 kaartjies, maar was die “finansiële projeksies” volgens die promotor, nie haalbaar nie.

“Ek het dalk laat wakker geskrik tot die onmin omdat ek altyd my fooie betyds ontvang het en nooit minder as koninklik behandel is nie. Dit is duidelik dat my medekunstenaars en personeel nie dieselfde voel of hanteer is nie,” het Hofmeyr op Facebook gesê.

Hy het aangedui dat hy en Bokradio, wat ook by die vertoning betrokke was, sal saam werk om ‘n vertoning in Kaapstad bymekaar te sit vir die 5 000-kaartjieverkopers wat kaartjies vir die Ikoon-konsert gekoop het indien hul gelde nie terugbetaal word nie.

De Villiers is die afgelope weke in die spervuur ná berigte oor wanbetaling, ’n hofgeding en kunstenaars wat hul deelname onttrek.

Die twis spruit uit die Theuns Jordaan-huldeblykkonsert in Amsterdam, waar kunstenaars beweer het hulle het nie hul volle betalings ontvang nie. Dit het ook tot ’n botsing met Kurt Darren gelei, wie se ikoon-konsert intussen gekanselleer is.

Darren het beweer daar was geen kontrak tussen hom en die omstrede promoter geteken nie, dus was dit ook deel van sy besluit om by die Kurt Darren-ikoon-konsert weg te stap.

Intussen het die Wes-Kaapse hooggeregshof ’n likwidasiebevel teen De Villiers se maatskappy, De Villiers National Cycling (ook bekend as Cool Concerts), toegestaan ná ’n skuld van meer as R2 miljoen aan die produksiemaatskappy Hit Factory.

De Villiers sê hy aanvaar die likwidasie, maar beweer hy is deur Hit Factory “oorgefaktureer” en weier om die betrokke bedrae te betaal.

Die Paarl Post het uitgereik na De Villiers, maar geen kommentaar ontvang nie.

Hy het tydens ‘n vorige geleentheid aan die koerant gesê hy beplan om hom voortaan op ander sakeprojekte toe te spits. Intussen is hy reeds ongeveer 24 jaar lank ’n bekende figuur in die Suid-Afrikaanse fietsrygemeenskap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article