Die 55-jarige Franschhoekse man wat beskuldig word van die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie het Woensdag (3 September) in sy borgtogaansoek in die Paarl-landdroshof gesê die beweerde 17-jarige slagoffer het glo uit eie keuse na hom toe gekom en dat dit glo sy was wat die beweerde seksdade met sy selfoon afgeneem het.
Die man het ook gesê hy is glad nie ‘n pastoor soos deur die media berig is nie.
“Ek was nog nooit ‘n pastoor nie en weet nie waaruit hierdie gerugte spruit nie. Ek is ‘n opvoeder en is al vir meer as 20 jaar in die onderwys,” het hy aan die hof gesê.
Die man, wie se identiteit aan Paarl Post bekend is, het Woensdag die getuiebank ingeneem en is deur sy regsverteenwoordiger ondervra as deel van sy aansoek om borgtog.
Die saak is tot Maandag (8 September) uitgestel wanneer hy na verwagting ook deur die staat ondervra sal word.
Hy is op 16 Augustus by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem in verband met video’s wat vroeër vanjaar aanlyn versprei is waarin hy glo seksueel met twee tienermeisies verkeer.
Een van die tienermeisies was in haar skooldrag.
Die polisie se eenheid teen reeks- en elektroniese misdade het op sy selfoon beslag gelê om die inhoud daarvan te ondersoek.

Hy het Woensdag in sy borgtogaansoek beweer dat hy die een video kort ná die beweerde seksdaad met die tienermeisie in haar skooldrag van sy foon af verwyder het.
“Ek het dit afgehaal omdat my kinders ook toegang tot my foon het.
“Ek weet dus nie hoe die betrokke video aanlyn begin versprei het nie,” het die man aan die hof gesê.
Volgens die klagstaat is die opname vermoedelik tussen Junie en Julie verlede jaar gemaak.
Die man staan tereg op drie aanklagte: a) die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie; b) die seksuele voorbereiding van ‘n minderjarige; en c) die besit van kinderpornografie.
Die einste man is ook in 2017 skuldig bevind aan statutêre verkragting van ‘n 17-jarige meisie ook van Franschhoek.
Hy is in daardie stadium ‘n opgeskorte vonnis in die Paarl-streekhof opgelê.
Hierdie meisie, wat toe 17 was, se ma het onlangs aan die koerant gesê haar dogter is vermoedelik al van 11-jarige ouderdom af deur die man seksueel voorberei.
Ontstoke inwoners het verlede Dinsdag (26 Augustus) vreedsaam voor die Paarl-landdroshof betoog om borgtog vir die man teen te staan.
Die inwoners het ‘n petisie begin wat altesaam 543 handtekeninge ingewin het en aan die staat oorhandig is.
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger het Woensdag die geldigheid van die petisie bevraagteken.
Die man se identiteit word weerhou om die beweerde slagoffers te beskerm.
Hy het ook nog nie formeel gepleit nie.






You must be logged in to post a comment.