Herstelwerk het by die Pelikaanpark-sportterrein in Wellington begin nadat dié veld se geriewe verlede jaar onder ‘n reeks voorvalle van vandalisme gebuk gegaan het.
Paarl Post het in Oktober verlede jaar berig oor ‘n brand wat glo opsetlik op die pawiljoen asook by een die kamers in die klubhuisgebou gestig is.
LEES HIER: Wellington-stadion wéér geteiken, dié keer aan die brand gesteek
In die een voorval op 5 Oktober in die aand is ‘n veiligheidswag glo in een van die klubhuis se kamers vasgekeer toe die brand op die pawiljoen gestig is. Die veiligheidswag moes om hulp skree en inwoners van Pelikaan- straat het tot sy redding gekom.
Die sportterrein is die volgende aand weer geteiken toe ses mans gesien is waar hulle die klubhuisgebou aan die brand gesteek het.
Die mans het daarna te voet van die toneel af gevlug.

David Delaney, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het verlede week gesê herstelwerk is aan die deel van die gebou met brandskade, die veld se spreiligte en die ou pawiljoen gedoen.
Volgens Delaney sal permanente private veiligheidswagte voortaan by die sportterrein patrollie doen.
‘n Veiligheidswag, wat juis deur die munisipaliteit vir die naweek van 8 Junie verlede jaar aangestel is om vandalisme en diefstal hok te slaan, is in die nagtelike ure beroof.
Ná gesprekke tussen die munisipaliteit en van die plaaslike sportklubs is besluit die klubs, moet die munisipaliteit so ver as moontlik bystaan deur met hul lede in gesprek te tree en hulle aan te moedig om aan die beveiliging van die geriewe deel te neem.
Die veld se veiligheidshekke, deure, muurproppe en ander voorwerpe wat as skroot kan dien, word voortdurend deur misdadigers geteiken, het die munisipaliteit verlede jaar gesê.
Intussen het Delaney gesê al die munisipale sportterreine wat vir rugby aangewend word, is in ‘n goeie toestand en reg vir die komende rugbyseisoen.
Delaney sê dit is slegs die Weltevrede-sportterrein in Wellington waar die munisipaliteit tans uitdagings weens vandalisme en diefstal ervaar.






You must be logged in to post a comment.