Die Drakenstein-munisipaliteit het bewerings deur die GOOD-party verwerp dat openbare fondse “gemors” is op sy nuwe munisipale liedjie en het vandees- week gesê dié liedjie se produksiekoste is ten volle deur die betrokke borge gedek.
Die munisipaliteit sê die borge het ook pa gestaan vir die koste van die spog-galadinee wat op 17 September gehou is toe plaaslike sakelui en politieke leiers onthaal is. Dit is ook op dié dinee waar die liedjie, gesing deur Frieda van den Heever, bekendgestel is.
LEES: Drakenstein launches anthem to celebrate valley
Die GOOD-party sê die lied kan dalk bedoel wees om trots te bevorder, maar wat dit in werklikheid blootstel, is waar die munisipaliteit se prioriteit lê en die kommerwekkende gebruik van openbare geld in ‘n tyd van toenemende swaarkry.
Keagen Gertse, GOOD se hoofsweep in Drakenstein en ‘n raadslid, sê die uitgawes is nie die optrede van ‘n regering wat toegewy is aan fiskale soberheid of armoedeverligting nie.
“Terwyl inwoners worstel met kragonderbrekings, verval in dienslewering en die daaglikse stryd van ongelykheid, het die Drakenstein-munisipaliteit gekies om geld uit te gee op ‘n professioneel vervaardigde jingle, ‘n galadinee en gratis etes vir personeel.”
Hy sê die GOOD-party gaan amptelike vrae aan die raad stel om die volle koste van die liedprojek bloot te lê.
“Dit sluit die komposisie, produksie, ateljeetyd, lisensiëring en bemarking in. Ons sal ook besonderhede eis oor die koste van die galadinee, hoeveel munisipale werknemers bedien is, teen watter koste, en watter verkrygingsproses gevolg is.
“Hierdie soort besteding is nie onskadelike tierlantyntjies nie; dit is ‘n belediging vir inwoners wat vra vir werklike diens- lewering. Stel jou voor: ‘n Banket vir die politieke elite op ‘n Woensdag, net om die volgende dag betogings en onrus oor krag toe te kyk. Dis nie regering nie; dis teater.”
Die betoging waarna Gertse verwys, is deur inwoners van informele nedersettings in Wellington en Mbekweni buite die munisipale gebou gehou.
Koos le Roux, die raad se Speaker, het by navraag gesê Gertse se uitlatings is misleidend. Volgens le Roux het die munisipali- teit nie ‘n sent op die liedjie uitgegee nie.
“Die liedjie is ten volle deur ABSA en Ontec, die borge, gefinansier. Die finale fakture is nog uitstaande, maar dit is in lyn met die kwotasies wat ontvang is. Nie ‘n enkele sent van belastingbetalers se geld is gebruik nie,” sê Le Roux.
Wat die dinee betref, sê Le Roux altesaam 240 gaste het die geleentheid bygewoon en die koste is deur ABSA, Ontec en die Perdeberg-wynlandgoed gedek.
“Meer as twee derdes van die gaste was eksterne belangegroepe, sakelui, beleggers en gemeenskapsorganisasies. Die doel van die geleentheid was om Drakenstein se gereedheid vir groei ten toon te stel.
“Hierdie was glad nie ‘n feesmaal vir plaaslike politici nie, maar een waar leiers in die bedryf met mekaar kon skakel.”
Le Roux hou vol dat die munisipale liedjie ten doel is om trots te kweek en die Drakenstein te bemark.





