Regslui kan nie nou al beslis oor die oordrag van die moordsaak van die 16-jarige Chanelle Plaatjies van die Paarl-landdroshof na die Wes-Kaapse hooggeregshof nie.
Dít is onlangs deur adv. Nicolette Bell bevestig. Sy is die nasionale vervolgingsgesag se direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap.
Haar skrywe volg nadat die Drakensteinse raadslid Bazil Jacobs aan Bell se kantoor geskryf het met die versoek dat die saak na die hooggeregshof oorgeplaas moet word. Jacobs het ‘n soortgelyke versoek aan Mmamoloko Kubayi, minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling, gerig.
Bell sê verder in haar terugvoer: “Die saak is steeds in die ondersoekfase en daarom is ek nog nie in ‘n posisie om te besluit waar die saak verhoor sal word nie. Die saak word egter gemonitor deur toegewyde kapasiteit in my kantoor, wat die ondersoek sal lei en die plaaslike aanklaers sal adviseer.
“Sodra die ondersoek afgehandel is, sal ‘n besluit oor die toepaslike forum geneem word. U kan die plaaslike senior staatsaanklaer nader vir opdaterings oor die saak.”
Chanelle, van Smartie Town in Paarl-Oos, is wreedaardig vermoor en haar lewelose liggaam in ‘n vlak graf in ‘n bebosde gebied agter die Allandale-gevangenis versteek.
Die tienermeisie is op 14 Mei laas deur haar familie gesien. Ná ‘n breedvoerige soektog wat haar familie, gemeenskapslede en die polisie ingesluit het, is haar ontbinde liggaam op 2 Junie opgegrawe.
Chanelle se familie het vroeë gesê die soektog het in die gebied waar sy gevind is, voortgegaan nadat Keaton Johnson (19) na bewering uit die gevangenis laat weet het dat hy Chanelle vermoor het en dat haar familie haar daar moet gaan soek.
Johnson is ‘n paar dae voordat Chanelle se lewelose liggaam opgegrawe is, op ander onverwante aanklagte aangekeer.
Chanelle se familie het bevestig dat sy en Johnson ten tyde van haar dood in ‘n kortstondige romantiese verhouding was. Johnson is kort ná die gru-vonds van die moord aangekla.
Hy en twee ander beskuldigdes, Bradley Mamani (25) en Theodore Qatha (31), het reeds in die Paarl-landdroshof verskyn.
Die landdros het die aard van die misdaad tydens die drie se hofverskyning op 26 Junie as “vooraf beplan” en ‘n skedule 6-oortreding beskryf.
Die saak is intussen tot 1 Augustus uitgestel sodat die uitstaande verslae – toksikologie, DNS en grondontleding – afgehandel kan word.
Die uitstel van die saak is ook sodat die direkteur van openbare vervolging die dossier onder oë kan kry.





