Katriena April Foto: Rasaad Adams
Katriena April Foto: Rasaad Adams

Minstens 24 huisgesinne op die plaas Ou Ruigtevlei buite Wellington sê hulle is skepties oor die Drakenstein- munisipaliteit se skielike humanitêre ingryping op plase, aangesien hulle al bykans 22 jaar sonder enige basiese dienste lewe nadat die boer in 2003 gedeporteer is.

Paarl Post het verlede week berig dat die munisipaliteit begin het om op minstens 14 plase in Drakenstein, waar bewoners deur plaaseienaars aan hul eie genade oorgelaat is, humanitêre hulp te verleen.

LEES: Gesinne op plaas buite Wellington al 10 jaar sonder krag, water

Die koerant kon nie teen druktyd bevestig of Ou Ruigtevlei een van die 14 plase is nie.

Ernst Harbich, ‘n Oostenryker en die eienaar van die plaas, is in Mei 2003 uit die land gedeporteer nadat hy glo van bedrog en geldwassery in sy geboorte- land aangekla is, het een van die plaasbewoners en voormalige arbeiders, Katriena April, vandeesweek vertel.

Harbich het destyds die grond by ‘n Suid-Afrikaner gekoop en met kanola, graan en beeste geboer, vertel April.

“Van daai tyd af was daar niemand wat eienaarskap van die plaas geneem het nie. Die boerdery het gestop, geboue en infrastruktuur het verval omdat niemand dit in stand kon hou nie en die mense het eintlik toe sonder enige inkomste gesit.

“Baie van die werkers van destyds is vandag al oorlede,” vertel sy.

Die Ou Ruigtevlei plaas buite Wellington. Foto: Rasaad Adams

Volgens April het sy oor die jare aan verskeie deure om hulp gaan aanklop.

“Ná sy deportering was ons toe sonder krag en water. Die boorgat se water kon nie meer gedrink word nie omdat dit nie in stand gehou is nie.

“Vir jare lewe ons nou al uit riviere, wat ook maar net in die winter loop. Ons kinders is al deur die boere op die plase in die gebied pakgegee toe hulle bloot skoon drinkwater wou gaan kry.

“Hier was al so baie mense wat elke keer net kom beloftes maak het. Ons eie raadslid, Elizabeth Baron, gee eenvoudig nie om nie. Toevallig is sy ook die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings.

“Ons word geensins ingesluit in wyksprojekte nie. Wanneer ons om hulp uitgereik het, is elke keer gesê dis private grond en die munisipaliteit is nie gemagtig om in te tree nie.

“Wie anders moet ons dan help?

“Wie moet aanspreelik gehou word as die eienaar waarskynlik nog in ‘n tronk in ‘n ander land sit?” het April bygevoeg.

April staan by die drom reënwater wat tans die plaas se enigste bron van drinkwater is. Foto: Rasaad Adams

Volgens haar het die munisipaliteit in Maart 2020 – midde die Covid-19-pandemie – ‘n watertenk op die plaas kom oprig.

Die tenk is glo ná baie gesukkel slegs vir ‘n paar maande deur die munisipaliteit met skoon drinkwater gevul.

Dit staan tot vandag toe weer leeg.

“Waar kom hierdie skielike optrede nou vandaan?

“Waar was hulle al die jare?

“Hoekom staan hierdie tenk, wat hulle opgerig het, vandag leeg?” wou April weet.

Sy sê vir haar gaan dit bloot daaroor om die waardigheid van die mense op die plaas te herstel.

“Hier is kinders, babatjies en bejaardes; mense met kroniese toestande. Boonop is die misdaad aan die toeneem. Ons het die laaste ruk ‘n groot probleem met dwelmverkope.”

Die enigste bron vir drinkwater wat die inwoners in dié stadium het, is ‘n groot blou drom wat met die onlangse reënval gevul is.

April hou die drom by haar tuiste waar inwoners water met emmers en waterkanne kan kom haal.

Bewoners op Ou Ruigtevlei woon al die afgelope 22 jaar op hul eie nadat die plaasboer in 2003 uit die land gedeporteer is.

Die Drakenstein- munisipale raad het op Vrydag 27 Junie eenparig gestem om dringende humanitêre hulp by 14 plase in die vallei te verleen.

‘n Munisipale afvaardiging onder die leiding van die stadsbestuurder sou, ingevolge die mosie, die plase besoek om die omvang van die hulp benodig te bepaal. Die provinsie se hulp sou ook ingeroep word om die wetlike aspekte rakende grondeienaarskap te fasiliteer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article