“Ek is ‘n man. Ek het behoeftes. Dit was ‘n oomblik van swakheid en sy het haarself beskikbaar gestel.”
Dít was Maandag (8 September) die getuienis van ‘n 55-jarige Franschhoekse man wat beskuldig word van die seksuele voorbereiding van ‘n minderjarige en die vervaardiging en besit van kinderpornografie toe sy borgtogaansoek in die Paarl-landdroshof voortgesit is.
Die man staan tereg op drie aanklagte: a) die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie; b) die seksuele voorbereiding van ‘n minderjarige en c) die besit van kinderpornografie.
Dit hou verband met ‘n video wat aanlyn gesirkuleer het waarin hy seksueel verkeer met ‘n tienermeisie in haar skooldrag.
Hy is op 16 Augustus by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem.
Dieselfde man is ook in 2017 skuldig bevind aan statutêre verkragting van ‘n 17-jarige meisie ook van Franschhoek.
Hy is in daardie stadium ‘n opgeskorte vonnis in die Paarl-streekhof opgelê, maar sy naam is wel na dié skuldigbevinding op die nasionale register van seksoortreders geplaas.
Die staat wou Maandag onder meer weet hoekom die beskuldigde toegelaat is om ekstra lesse aan leerders te bied en leerders te vervoer gegewe sy vorige veroordelings.
Die staat het ook die beskuldigde se gebrek aan onderwyskwalifikasies uitgewys, nadat hy, soos wat hy getuig het, vir meer as 20 jaar by verskeie skole betrokke was.

Die man is Maandag deur die staat gekruisondervra waartydens hy homself verskeie kere weerspreek het.
Hy het Maandag aanvanklik getuig dat hy by slegs een geleetheid seksuele omgang met die minderjarige slagoffer, wat in Junie verlede jaar 16 was, gehad het.
Hy het kort daarna sy getuienis verander en gesê dat die beweerde slagoffer hom in beide Junie en Oktober verlede jaar persoonlik gekontak en gevra het dat die twee van hulle seksueel moet verkeer.
Hy het erken dat hy video-opnames van albei geleenthede gemaak het en dat hierdie video’s op ‘n hardeskyf gestoor is.
Hy het getuig dat hy dit toe van sy foon af verwyder het.
Die beskuldigde het volgehou dat dit die slagoffer se voorstel was dat die seksdade afgeneem word.
“Sy het gesê sy wou video’s maak vir memories. Sy het my foon gebruik omdat sy in daardie stadium nie ‘n selfoon gehad het nie.
“In die posisie waarin ek was, soos gesien op die een video, kon ek nie self die video’s opgeneem het nie. Sy is die een wat dit record het.”
Die beskuldigde het homself toe weer weerspreek nadat hy aanvanklik in die staat se kruisondervraging gesê het dat hy nooit self die video’s versprei het nie.
“Sy het gesê ek moet die video’s hou totdat sy eendag ‘n foon het. Maar sy kon dit dalk vir iemand gestuur het terwyl ons gery van die plek [Franschhoekpas] waar die dade plaasgevind het.
“Sy het langs my in die bakkie gesit met my foon. Ek kon hoor sy kyk die video. Sy kon dit miskien op daardie oomblik vir iemand gestuur het.”
Toe sy regsverteenwoordiger hom Maandag ondervra het hy egter getuig dat hy self die video-opnames vir die slagoffer gestuur het.
“Sy het my gekontak en vir die video’s gevra. Ek kan nie onthou wanneer nie en kan ook nie die nommer onthou wat sy gebruik het nie,” het hy getuig.
Hy het verder getuig dat dit die slagoffer was wat hom in Junie en Oktober verlede jaar gekontak het met die voorstel dat hulle seksueel verkeer.
“Ek is ‘n man. Ek het behoeftes. Dit was ‘n oomblik van swakheid en sy het haarself beskikbaar gestel,” het hy aan die hof gesê.
Die ondersoekbeampte, verbonde aan die Franschhoek-polisiekantoor, sal Donderdag (11 September) die getuiebank inneem.
Volgens die staat sal die ondersoekbeampte getuig dat die slagoffer 16 was toe die beweerde seksdade plaasgevind het en dat hy [die beskuldigde] die enigste een is wat die kinderpornografie kon versprei het.
Intussen het die staat Maandag vlugtig genoem dat meer beweerde slagoffers sedert die man se inhegtenisneming na vore gekom het.
Die staat wou na een spesifieke klagte verwys wat vermoedelik vroeg verlede week aanhangig gemaak is, maar is deur die landdros in die rede geval.
Die landdros het die staat daaraan herinner dat alle nuwe inligting op die klagstaat deur die relevante kanale moet gaan, wat insluit dat die beskuldigde se regsverteenwoordiger daaroor ingelig moet word.






You must be logged in to post a comment.