Begunstigdes van die Franschhoek Claimants Trust eis antwoorde by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oor hoekom hy glo nie ‘n bedrogsaak in die Paarl-landdroshof wil aanhoor nie, te midde van nuwe inligting wat verband hou met die meer as R600 000 wat skynbaar uit die trustrekening verdwyn het.
Paarl Post het in Oktober 2024 berig dat die polisie se eenheid vir handelsmisdade die saak aanvanklik ondersoek het, maar dit toe later as ‘n siviele aangeleentheid beskou het.
LEES: Franschhoekse groep sal ‘bly veg’ oor trustgeld
Gordan Pheiffer, een van die begunstigdes en ‘n bejaarde inwoner van Franschhoek, het egter nie gaan stilsit nie en verder in die trust se boeke gaan krap vir bewyse dat daar wel elemente van misdadigheid was.
Die saak is volgens Pheiffer aan die einde van verlede jaar as ‘n strafsaak hervat nadat hy bewys het ‘n boekhouer het hom glo as ‘n ouditeur voorgedoen en was glo kop in een mus met ander trustees om geld onregmatig uit die trustrekening te bestee.
Die Franschhoek Claimants Trust is in 2004 deur 254 begunstigdes gestig, wat ‘n stuk grond van vyf hektaar by die regering as deel van die grondhervormingsproses van destyds ontvang het.
Die groep het destyds drie hektaar van die grond vir ontwikkelingsdoeleindes teen ‘n bedrag van R1,2 miljoen verkoop.
Strafsake is in Desember 2021 teen drie trustees aangemeld toe dit aan die lig gekom het dat meer as R600 000 in beweerde onregmatige transaksies oor etlike jare uit die trustrekening betaal is.
Die meeste hiervan was tjekuitbetalings tussen R50 000 en R89 000.
Volgens Pheiffer het die Franschhoek-polisie die saak na sy eenheid vir handelsmisdaad in Bellville verwys, wat dit begin ondersoek het, maar dit toe ‘n jaar later as een van ‘n siviele aard bestempel het.
Pheiffer het vandeesweek aan Paarl Post gesê hy het die polisie aan die einde van verlede jaar met nuwe bevindinge genader. Hy sê ‘n senior staatsaanklaer in die Paarl-distrik het egter aangedui die saak gaan nie op die hofrol van die Paarl-landdroshof verskyn nie.
“Ons verstaan hy het gesê die Paarl-hof sal volstaan by ‘n vorige beslissing dat hierdie saak nie aan die nodige meriete vir strafregtelike vervolging voldoen nie. Die nuwe en vorige bewyse is daar, so ons sukkel om te verstaan hoekom die hof nie die saak op die rol wil plaas nie. Nou hoor ons ons moet ‘n brief aan die kantoor van die direkteur van openbare vervolgings rig.”
Volgens Pheiffer oorweeg die begunstigdes tans verskeie opsies.
“Private vervolging is ook in ‘n stadium genoem, maar dit kos geld – geld wat ons nie het nie.
“Baie van die begunstigdes is al oor die jare oorlede. Ons sal egter nie ophou baklei vir geregtigheid nie. Die skuldiges moet verantwoording doen.”
Navraag is gerig aan Diane Blaauw, senior landdros by die Paarl-landdroshof, oor die nuwe verwikkelinge in die saak en bewerings dat die NVG nie die saak op die hofrol wil plaas nie.
Blaauw het teen druktyd nog nie op die koerant se vrae gereageer nie.





