Die Drakenstein-munisipaliteit het vandeesweek bevestig dat hy nie meer kandidate werf om die vakante amp van uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste te vul nie, aangesien nou besluit is dat dié departement met die departement van openbare veiligheid gaan saamsmelt.
Paarl Post het in Julie vanjaar berig dat die munisipaliteit in daardie stadium glo “gesukkel” het om die amp gevul te kry weens die skynbare lae salarisaanbod.
LEES: Drakenstein onderhandel vir ‘beter salaris’ om senior amp eersdaags te vul
Dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, het toe gesê dat die munisipaliteit in daardie stadium met die provinsiale departement van plaaslike regering onderhandel het vir ‘n hoër salaris om die geskikte kandidaat te werf.
“Dit is baie belangrik dat hierdie pos met ‘n permanente werker gevul word. Ons het by ‘n vorige geleentheid verslag gedoen dat die eerste ronde onderhoude gevoer is.
“Slegs twee kandidate het uitgestaan en hulle sal later weer vir verdere besprekings genooi word.
“Ons het met die provinsiale regering vir ‘n beter salarisaanbod onderhandel en hoop om nog in Julie ‘n antwoord te kry,” het Leibbrandt op ‘n raadsvergadering op 27 Junie gesê.
Seraj Johaar, die direkteur vir korporatiewe en beplanningsdienste, het egter vandeesweek ‘n ander deuntjie gesing en aangevoer dat hierdie herstrukturering ook tot finansiële besparings vir die munisipaliteit sal lei.
“Die Drakenstein-munisipaliteit se gemeenskapsdienste en openbare veilig- heidsdienste het voorheen as ‘n enkele departement gefunksioneer en ons is vol vertroue dat die aanstelling van een uitvoerende direkteur om hierdie groep dienste te lei, doeltreffende leiding en bestuur van al die funksies sal verseker,” sê Johaar.
“Aangesien die nasionale departement, wat verantwoordelik is vir plaaslike regering (Cogta), nog geen kennisgewings oor die boonste salarisskale van senior bestuurders uitgereik het nie, en omdat hul bestaande kennisgewings nie implementeerbaar is nie, is ons nie in staat om kandidate te lok om vir die pos aansoek te doen nie,” verduidelik Johaar.
Bazil Jacobs, ‘n raadslid en die leier van die Concerned Drakenstein Residents-party (CDR), het by navraag gesê die party is met die herstrukturering onkant betrap.
“Dit was die stadsbestuurder wat twee jaar gelede aangedring het dat die twee departemente skei. Hy het toe aan die raad verduidelik hoe belangrik dit is vir die twee om apart te funksioneer sodat funksies soos wetstoepassing aandag geniet.
“Ons standpunt was toe al dat ‘n departement soos gemeenskapsdienste ‘n kritieke rol in ons gemeenskappe vervul, wat die lewering van basiese dienste betref. Jy kort dus personeel wat alleenlik daarop fokus.
“Met dié dat die Drakenstein besig is om so vinnig uit te brei, is dit onprakties dat twee sulke kritieke departemente as een funksioneer.
“Hierdie herstrukturering bevestig CDR se vermoede dat die munisipaliteit nie geld het om vakante poste te vul nie. Dit gaan nie werk nie en aan die einde van die dag is dit ons gemeenskappe wat benadeel gaan word,” het Jacobs gesê.





